Die organiseerders van Skouspel het kaartjies aan Helpende Hand geskenk. Die skenking het dit vir 228 mense moontlik gemaak om die geleentheid by te woon. Van die kaartjies was aan Pretoria Bejaardesorg gegee. Hier is ʼn brief wat Attie de Jager, die programbestuurder van Pretoria Bejaardesorg aan Helpende Hand gestuur het.

Pretoria Bejaardesorg wil net baie, baie dankie sê vir die wonderlike voorreg om kaartjies vir hierdie ware SKOUSPEL van kleur en klank te kon kry. Elkeen van die bejaardes wat dit bygewoon het, kan nie uitgepraat raak oor die wonderlike ervaring nie. Hulle babbel behoorlik soos skoolkinders oor hierdie wonderlike belewenis.

Wanneer mens met minder bevoorregte mense werk, kom mens maar net herhaaldelik onder die besef van hoe groot God se genade in werklikheid is.

Van ons bejaardes kon nie glo dat daar ‘n plek is waar soveel mense saam kon sit nie. Die Superbowl was vir hulle oorweldigend. Die meeste van die bejaardes was nog nooit by Sun City nie. Die verhoog, klank en klere van die kunstenaars was vir van hulle net eenvoudig asemrowend. Dan was daar die lekkerte om tuis te kan gaan vertel dat hul al die kunstenaars lewendig sien optree het!  Wat ‘n voorreg! Dit alles omdat dit die eerste keer is dat hul by so ‘n geleentheid kon wees.  In meer as een geval die eerste keer in bykans 80 jaar.

Baie, baie dankie aan almal wat dit vir die bejaardes moontlik gemaak het om hierdie geleentheid te kon bywoon. Ons waardeer dit opreg en sien daarna uit om volgende jaar van ons ander bejaardes te kan neem.

Seën met julle groot taak.