Nianell, Hykie Berg, Chris Vorster, Bobby en Karlien van Jaarsveld en Pieter Koen is van die bekendes wat op 27 Julie gaan honger bly as deel van Solidariteit Helpende Hand se massa-eetstaking ten bate van die Kosblikkieprojek.
Helpende Hand daag mense oor die hele land uit om ook deel te neem aan ’n eetstaking om met behoeftige en honger kleuters te identifiseer. In 2011 het Helpende Hand met die eerste massa-eetstaking binne agt ure R65 000 ingesamel.“Die eetstaking help ons om met kleuters se nood te identifiseer en die geld wat jy sou spandeer op kos vir daardie dag, word dan geskenk vir die oplossing: voedingskemas in behoeftige Afrikaanse kleuterskole,” sê Lindie Strydom, die projekorganiseerder. “Deur vanjaar se Kosblikkieprojek word meer as 3 200 behoeftige kleuters en 2 000 versorgers van 41 kleuterskole oor die land heen geraak en opgehef.”
Die massa-eetstaking sal vanjaar van Donderdag, 26 Julie tot Vrydag, 27 Julie duur. Tydens hierdie twee dae moet deelnemers vir 24 uur sonder kos bly. Die geld wat in hierdie tyd aan kos spandeer sou word, word dan aan die Kosblikkieprojek geskenk.
Nianell, Liza Brönner, Andries Hendrik Potgieter, Sorina die Flooze en Gretha Wiid sal op 27 Julie om 13:00 by die Kolonnade-winkelsentrum aan pret-aktiwiteite en speletjies ten bate van die projek deelneem.
Die publiek kan die eetstaking op Helpende Hand se Facebook-blad volg en is ook welkom om die geleentheid by die Kolonnade-sentrum by te woon.