Tersiêre opleiding is peperduur. Daarom maak dit sin om in professionele loopbaanvoorligting te belê. Helpende Hand se professionele beroepsleidingsdiens wil jongmense voorberei vir die wêreld van werk. ʼn Geregistreerde psigometris van Helpende Hand kan die toetse op enige plek aanbied, mits daar agt of meer jongmense is wat van die diens gebruik wil maak.

Annette Taljaard is Helpende Hand se psigometris. Haar fokus is hoofsaaklik beroepsvoorligting. Kortliks doen sy psigometriese toetse soos aanleg-, belangstelling- en persoonlikheidstoetse met die doel dat ʼn kind vak- en beroepskeuses kan maak. So word die sterkpunte en beroepsvelde waarvoor ʼn persoon aangelê is, geïdentifiseer. Voorstelle word aan ouers en kinders gemaak waaruit opsies vir die toekoms oorweeg kan word.

“Psigometriese toetse gee ʼn goeie aanduiding waarvoor ʼn individu aangelê is en wat jou sterkpunte is,” sê Taljaard. “Deur individueel met elke kliënt te werk, kom jy agter wat is hulle passie in die lewe, hul waardes en wat is vir hulle belangrik, indien hulle eendag in ʼn beroep sou staan.”

Helpende Hand is ʼn doen-organisasie wat jongmense voorberei vir die werkende wêreld en dit word saamgevat in die konsep van opheffing-deur-opleiding.

Helpende Hand wil Afrikaanssprekendes reeds van kleuterstadium met die Kosblikkieprojek, in graadeen met die Skooltassieprojek en regdeur hulle skoolloopbaan met skool- en beroepsleiding tot ʼn naskoolse beurslening ontvanklik maak vir die geleentheid van werk, sodat hulle kan bydrae tot die ekonomie en die armoedekringloop kan verbreek.

Die doel van Helpende Hand se Beroepsvoorligtingsprogram is om aan Afrikaanse jongmense regoor die land ʼn bekostigbare beroepsleidingdiens ten opsigte van vakkeuses en beroepskeuses te verskaf met die gebruik van psigometriese en aanlegtoetse.

Die pryse is tot 300% goedkoper as markverwante dienste. Vanjaar se pryse lyk so:

Vakkeuse pakket: R400

Beroepskeuse pakket R660

Jongmens pakket: R550

Skakel Annette Taljaard by 012 644 4390 of stuur ʼn e-pos aan Annette@helpendehand.co.za.