BURGER (Oos-Kaap), VOLKSBLAD, BEELD 4 Oktober 2012 Bladsy 8

Sy oupa, die digter-dokter A.G. Visser, sou baie bly gewees het oor die beursfonds vir minderbevoorregte studente wat na hom vernoem en Dinsdagaand in Centurion deur Solidariteit Helpende Hand bekend gestel is. Dr. Andries de Jongh, ‘n ortopeed by die Jakaranda-hospitaal in Pretoria en ‘n kleinseun van Visser, het gesê sy oupa sou beslis ten gunste van die fonds wees en sou die gedagte steun dat dit aan behoeftige leerders gaan wat in die geneeskunde wil studeer.

Andries Gerhardus Visser is op 1 Maart 1879 gebore. Daar was ‘n intense droogte in die Karoo en verskeie boere het op die plaas Zaaifontein in die Fraserburg-distrik geboer. Omdat die plaashuis oorvol was, moes A.G. Visser se ouers in ‘n tent woon. Dit is hier, onder ‘n groot peerboom, waar die tweemalige Hertzogpryswenner vir letterkunde gebore is, het Lindie Strydom, skakelbeampte van Helpende Hand, vertel. Visser het aanvanklik tuisonderrig gekry. Hy is op 13 jaar na die Hugenote-gedenkskool op Daljosafat. Na st. 8 (gr. 10) is hy na die Normaalkollege in Kaapstad waar hy onderwyser geword het. Na vyf jaar in die onderwys het hy besluit om medies in Edinburg, Skotland, te gaan studeer.

In 1906 het hy as dokter na Carnavon teruggekeer waar sy ouers se plaas was. Hy het vinnig ‘n besige praktyk op die been gebring en dit veral geniet om met kinders te werk. In 1916 het hy na Heidelberg in die destydse Transvaal verhuis waar hy as dokter, digter en kunstenaar gewerk het. Hy is ook die “Ware digter van die Mense” en die “Sanger van Suikerbosrand” genoem wat mense geleer het om mooi dinge en liefde te waardeer. Hy is op 19 Junie 1929 op 51 dood. Dr. Danie Brink, uitvoerende hoof van Helpende Hand, het gesê A.G. Visser het dit nie breed gehad nie, maar hy is ‘n Afrikaner waarop ‘n mens kan trots wees. Die A.G. Visser-Geneeskunde-studiefonds versinnebeeld ook die filosofie van opheffing deur opleiding. Solidariteit het reeds meer as 2 500 studente gehelp om hul studiedrome te bewaarheid. Vanjaar is R7 miljoen se beurse en rentevrye lenings aan 529 behoeftige studente toegestaan.

Dr. Danie Brink, uitvoerende hoof van Solidariteit Helpende Hand, en dr. Andries de Jongh, bekende ortopeed van Pretoria en kleinseun van die digter A.G. Visser. Die A.G. Visser-Geneeskunde-studiefonds is Dinsdagaand deur Helpende Hand bekend gestel.