Deur Lilian Zaaiman (ma)

Sune het van die begin van die jaar af tot nou toe 9 groot motiveringspraatjies op uitnodiging gedoen.  Sy het selfs sover as Klerksdorp gery om een by ‘n kerk daar te gaan doen.Sy het hierdie jaar 2 modelkompetisies aangebied, nl. Die Kovsie Splash 2011 wat sy by die Universiteit van die  Vrystaat aangebied het.  (Dit het ontstaan nadat sy en Prof. Johnathan Jansen in Februarie vanjaar mekaar ontmoet het.  Hierdie kompetisie het sy in samewerking met Geruan Geldenhuys, ‘n Jool Finalis, aangebied).  Sy het weer Diamond Splash aangebied in Kimberley in samewerking met Modelcup SA.  Hierdie kompetisies sal hopelik ‘n jaarlikse instelling word.

Danksy die Diamond Splash kompetisie, het ons ook onlangs in ‘n plaaslike koerant gelees watter invloed Sune op ‘n 17 jarige seun gehad het, deurdat hy ‘n omkeer in sy lewe van dwelmverslawing en losbandigheid gemaak het en na klasse wat hy by haar ontvang het, reeds ‘n paar titels in modelkompetisies verwerf het.  Hy is ook nou ernstig betrokke by “Save a Child” en lewer ook nou motiveringspraatjies.

‘n Hoёrskool leerling van die Oos-Kaap het, volgens mev van Zyl van Hoёrskool Noord-Kaap in Kimberley, ook tydens die fanale rondte van die Nasionale  Redenaarskompetisie in Goudini, vir Sune as ‘n bron gebruik en na haar verwys as “iemand wat kolskote in die lewe skiet”.

Ons is dus geweldig opgewonde oor die feit dat sy ‘n positiewe uitwerking op die jongmense het en wil graag ‘n boodskap uitdra na jongmense wat by haar projekte betrokke wil raak, om ons te kontak.

Dit was egter nie hierdie jaar maklik om vir die beursfonds geld in te samel nie.  Die ekonomie het definitief sy knou toegedien en ons hoop om volgende jaar groter sukses te behaal.