Deur Surika Behrens

Solidariteit Helpende Hand het onlangs die opheffingsinisiatief BokkieBlou/Handgemaak by die Fient Kunsgalery in Duncan Yard, Hatfield, bekendgestel.

Tydens die uitstalling is onder andere produkte uitgestal wat deur behoeftige vroue as deel van die werkskeppingsinisiatief ontwikkel is. Die inisiatief behels die ontwikkeling van ’n hoëgehalte kreatiewe produkreeks, wat opleiding en werkskepping bevorder. Die besigheidstruktuur verleen ondersteuning en bied ’n volhoubare inkomste, wat op sy beurt lei tot die opheffing van talentvolle, minderbevoorregte Afrikaanse vroue.

Die Handgemaak-produkreeds bring die tradisionele en die nuwe bymekaar, waar tradisionele dekor in ’n moderne, eg Afrikaanse produkreeks herontdek word.

Tradisionele kraal-, hekel- en borduurwerk word omskep in ’n produkreeks wat handvaardigheidstegnieke soos kralewerk, hekel, borduur en ander tekstieltegnieke insluit. Handgemaak skep dus ’n langtermyn-inkomste vir behoeftige Afrikaanse vroue.

Die inisiatief sal ook daartoe bydra om behoeftige kinders se omstandighede te verbeter deur ’n inkomstestroom vir Helpende Hand se projek Borg-’n-Kind te skep. Talentvolle behoeftige kinders in die gemeenskap waar die werkskeppingsinisiatief tot stand gebring is, sal baat by projek Borg-’n-Kind, wat daarop gemik is om elke kind te help om ’n selfstandige en verantwoordelike volwassene te word.