As deel van die Goeddoen Projek het die Carletonville-dienskantoor vroegdag op 20 Junie 2012 reeds vertrek na die Deurgangshuis in Carletonville. Gewapen met lekkergoed boksies, worsbroodjies, koeldrank en kos het hul baie opgewonde daar opgedaag. Petro Watson, Dana Viljoen, Debbie van Wyk en Collin Watson het vir die kinders ʼn opvoering gehou en ʼn boodskap van Hoop aan elke kind in die kleuterskool oorgedra.

Goldfields Shared Service het aangesluit en vir elke kind in die kleuterskool ʼn lekker warm kombers gegee. Hulle het in totaal 90 komberse aan die deurgangshuis geskenk.  Die jongste kindjie vir wie ‘n kombers gegee is was maar net twee maande oud. Hulle het ook ‘n skenking van ‘n groot pot sop ontvang van ‘n plaaslike restaurant in die dorp. Die kantoor het die springkasteel opgeslaan, vroteier gespeel en die tyd saam met elke een van die kinders geniet. Die kinders het hulle gate uit geniet.

Teen etenstyd is daar vir die kleuterskool kinders worsbroodjies gegee – soveel as wat hulle magies kon vat. Die sop was aan die deurgangshuis self geskenk en dit het omtrent so 65 mense gevoed. Die kinders was ‘n totaal van 63 wat met ʼn vol magie en ʼn heerlike warm kombers kon huis toe gaan.

Na afloop van die middag ete het elke kind ʼn lekkergoed boksie ontvang. “Die dankbaarheid op elke gesiggie sal ons nog ʼn lang tyd bybly.” Op 21 Junie 2012 het Goldfields Shared Services geskakel en gesê dat die armoede hulle so geraak het dat hulle voel dat hulle vir elke kind nog ʼn paar skoene gaan gee.

“Dit was voorwaar ʼn heerlike dag gewees en dit het ʼn paar kinders se harte blygemaak.”