Meer as 500 nuwe ondersteuners het sedert 1 Junie deur die takbefondsingsplan by Helpende Hand aangesluit. Baie welkom aan ons nuwe ondersteuners. Mag julle voorwaar vervulling vind deur julle betrokkenheid by Helpende Hand se werk. Ek wil julle elkeen aanmoedig om betrokke te raak by die tak wat jou gewerf het. Op so ’n manier kry jy direk inspraak in die werk in jou gemeenskap en kan jy ons help om ons werk nóg beter te doen.

Ten minste ses takke het ook elk reeds meer as 15 ondersteuners gewerf. Hierdie takke ontvang eersdaags R10 000 vanaf hoofkantoor om in hul gemeenskappe aan te wend. Ons sien uit na baie mooi projekte wat gerig is op die permanente verbreking van armoede en lewensveranderende insette in die lewens van behoeftige mense.

Een van ons twee vlagskipprojekte, die nasionale Skooltassiepprojek, skop binnekort landwyd af. Soos altyd maak ons staat op takke se betrokkenheid in die vorm van die identifisering van behoeftigheid en die insameling van fondse met hierdie waardige projek as trekpleister. Ons mikpunt is om in 2013 sowat 5 000 tassies te versprei en die inhoud ook te verbeter ten bate van uitstekende akademiese insette in die lewens van hierdie graadeens.

Groete,

Danie Brink