UITENHAGE DESPATCH NUUS 19 Julie 2012

Die koue en nat weersomstandighede dwing mense om warm aan te trek en knus binnenshuis te verkeer. Hierdie beskerming teen die winterweer is nie vir almal beskore nie. Despatch Spar het ‘n projek geloods om hulp te verleen aan sorgbehoewendes in die plaaslike gemeenskap.

“Ek is bewus van die baie mense in ons gemeenskap wat swaar kry. As deel van Despatch Spar se beleid om terug te gee aan die gemeenskap het ons ‘n veldtog geloods om nie-bederfbare kos in te samel met die doel om dit aan die behoeftiges te gee,” het Paul Barnes, eienaar van Despatch Spar gesê.

Die projek is geloods in samewerking met Solidariteit Helpende Hand, ATKV Sonneblom-tak en CMR Despatch. ’n Beroep word op Despatchers gemaak om nie-bederfbare voedsel in die trollies by Despatch Spar te plaas.

Alle skenkings wat ingesamel word sal deur die bogenoemde instansies gehanteer en versprei word. “Saam kan ons ‘n verskil maak. Despatch Spar sê dankie aan ons klante en gemeenskap vir hulle getroue ondersteuning,” het Barnes gesê.

Marlene Veldtman (Solidariteit Helpende Hand), Paul Barnes (Despatch Spar), Anette Becker (ATKV Sonneblom-tak) en Elize van Zyl (CMR Despatch)