POS/POST WARMBAD, NABOOMSPRUIT & NYLSTROOM 25 May 2012 Bladsy 9
‘n Koerantkantoor is nou nie juis altyd die positiefste werkomgewing waarin ‘n mens jou kan bevind nie. Ons moet maar kophou om nie partykeer verswelg te word deur die slegte nuus daar buite, of die gekla van die lesers nie. Daar is met elke week se koerant iemand iewers wat vies is. lemand waaroor daar berig is; iemand waaroor daar nie berig is nie; iemand wie se berig nie prominent genoeg was nie; iemand wie se berig te prominent was. ‘n Mens moet soms renostervel en Salomo se wysheid kweek om almal net min of meer gelukkig te hou.
Dis waarom ons heel uitbundig van blydskap raak as daar berigte op ons tafels beland soos die een vandeesweek oor die vakbond Solidariteit se 110 Doen Goed Projekte-veldtog. Die Solidariteit-beweging is vanjaar 110 jaar oud en Helpende Hand vier die geleentheid op ‘n besondere wyse. Een daarvan is om Suid-Afrikaners te nooi om in Junie vanjaar deel te neem aan die 110 Doen Goed Projekte-veldtog.
Deelnemers kan tussen 18-22 Junie enige weldaad in hulle gemeenskap aanpak. Die slagspreuk vir die veldtog is Doen Goed, Voel Goed, Wees Goed. Die idee is dat weldoeners besef hoe lekker dit is om ‘n goeie daad te verrig en dit dan meer gereeld aanpak. Sodoende kom hulle “in die ritme” van gee. Deelnemers kan as individue of spanne deelneem en kan ook meer as een projek aanpak. Daar is geen beperking op waiter en hoeveel projekte aangepak word nie. Dit kan so eenvoudig wees as om vir die polisielede op nagskof warm koffie te neem, of om blikkieskos by ‘n behoeftige instansie te gaan aflaai.
Ja, baie mense in ons gemeenskap doen al reeds hierdie dinge, en veel meer. Maar hierdie is ‘n geleentheid om die idee van dienslewering by nog meer mense — en veral kinders — tuis te bring. Dit behoort pret te wees om te gee; nie harde werk en afsloof en kla oor die ure nie!
Mense wat wil deelneem kan die registrasievorm op Helpende Hand se webwerf (www.helpendehand.co.za) kry en dit gerus terugstuur na diens @ helpendehand.co.za vir koördinering. Op die webwerf is ook ‘n projektelys om voornemende deelnemers se idees te prikkel. Deelnemers word ook aangemoedig om foto’s en video’s van die verrigtinge aan Helpende Hand te stuur. Daag vandag nog vriende uit om ook deel te neem en maak ‘n verskil in ons mooi land.