FEVER.ONLINE 27 September 2012

Onderklere is een van die grootste behoeftes by bejaardes wat dit nie breed het nie. Warm klere en skoene is ook ‘n behoefte maar onderklere van alle soorte is ‘n groot nood. Helpende Hand het bevind dat arm bejaardes nie die nodige fondse het om “luukshede” soos onderklere aan te koop nie. Geld wat beskikbaar is word eerder op ander dinge soos mediese sorg, toiletware, kos, huur en ander klere spandeer as wat dit op onderklere spandeer word. Goeie onderklere is ook relatief duur en word dikwels oor die hoof gesien ten koste van ander noodsaaklikhede.

Alhoewel Helpende Hand in Oos Londen se primêre doelwit nie die voorsiening van klere is nie, het ‘n sakeman onlangs van die situasie te hore gekom en ‘n groot aantal stukke onderklere aangekoop en aan Helpende Hand vir verspreiding oorhandig. Tak-lede het die klere gesorteer en verlede week aan tehuise waar behoeftige bejaardes woon oorhandig. Bestuurslede van die betrokke tehuise het hulle dank en waardering uitgespreek en die behoefte wat deur Helpende Hand geïdentifiseer is bevestig.

Belangstellende lede van die publiek wat by Helpende Hand wil betrokke raak en veral met die daarstelling van beursfondse vir behoeftige skoliere en studente kan gerus die takvoorsitter Jan Smit by 0834153311 kontak.

Jan Smit en Ronell Strydom van Helpende Hand in Oos Londen oorhandig die onderklere aan bestuurslede van die tehuise.