SOLIDARITEIT 01 September 2012 Bladsy 48

Deur Juanita du Preez

Solidariteit Helpende Hand se massa-eetstaking ten bate van die nasionale Kosblikkieprojek op 26 en 27 Julie was baie suksesvol en het die organisasie se verwagtinge oortref. Helpende Hand het mense oor die hele land uitgenooi om ook deel te neem aan ’n eetstaking om met behoeftige en honger kleuters te identifiseer. In 2011 het Helpende Hand met die eerste massa-eetstaking binne agt ure R65 000 ingesamel. Ongeveer R90 000 is tydens vanjaar se eetstaking ingesamel. Hierdie bedrag is egter net meer as 10% van die Kosblikkieprojek se jaarlikse uitgawes van R750 000.

Lindie Strydom, Sorina die Flooze, Andries Hendrik Potgieter, Gretha Wiid, Liza Brönner en Tanya Strauss ondersteun Helpende Hand se Kosblikkieprojek en eetstaking.

Helpende Hand bereik vanjaar ongeveer 3 200 behoeftige kleuters met die Kosblikkieprojek. Die projek het die afgelope drie jaar gegroei tot ’n omvattende antwoord op die holistiese ontwikkeling van behoeftige kleuters in Suid-Afrika. Dit behels ’n voedingskema waardeur kleuters voedsame etes by kleuterskole ontvang; die opleiding van nagenoeg 2 000 ouers en versorgers of kleuterskoolassistente; en die verskaffing van kratte gevul met opvoedkundige speelgoed aan kleuterskole en graad R-klasse.

“Ons is so dankbaar vir elke persoon wat ’n SMS gestuur, ’n kosblikkie teen R50 gekoop of ’n bedrag direk in ons bankrekening betaal het,” sê Lindie Strydom, die projekorganiseerder. “Om die uitdagings rakende vroeë kinderontwikkeling voorkomend aan te spreek deur voedingskemas by kleuterskole, die opleiding van kleuterskoolassistente, die verskaffing van ouerleiding, maatskaplike ondersteuning en die beskikbaarstelling van opvoedkundige materiaal, moet die gemeenskap werklik by die projek inkoop. Die behoefte aan die ondersteuning wat die projek bied, neem elke jaar toe.”

Bobby en Karlien van Jaarsveld, Pieter Koen, Hykie Berg en Chris Vorster is van die bekendes wat op 27 Julie honger gely het as deel van Solidariteit Helpende Hand se massa-eetstaking ten bate van die Kosblikkieprojek. Ander bekendes soos Sorina die Flooze, Andries Hendrik Potgieter, Nianell, Tiro, Liza Brönner, Tanya Strauss en Gretha Wiid het op die dag by die Kolonnade winkelsentrum in Pretoria saam met Helpende Hand bewusmaking gedoen vir die Kosblikkieprojek.

So kan jy help

Die Kosblikkieprojek behels in 2012 voedingskemas by 40 kleuterskole regoor die land en die indiensopleiding en ouerleiding word in samewerking met Hettie Brittz en haar span Immergroen Ouerskap-fasiliteerders aangebied.

Elke skool ontvang ʼn krat met materiaal vir kuns en handwerk, opvoedkundige- en fantasie- spel, lewensvaardighede, wiskundige vermoëns, legkaarte en Afrikaanse leesboekies. Immergroen opvoedkundige materiaal in die vorm van temperament- en gedragplakkate, dissiplineprodukte, CD’s en DVD’s word ook aan die skool geskenk.

Om ’n simboliese kosblikkie teen R50 te koop en sodoende vir ’n behoeftige kleuter die geleentheid te gee om met ’n gelyke kans weg te spring, SMS die woord ‘hand’ na 38657 en ’n agent sal jou skakel.