DISTRICT MAIL 19 Julie 2012
Die Nederduits Hervormde Kerk het saam met Helpende Hand gespan om vir die behoeftige kinders van Kay’s Karavaanpark met hamburgers en lekkernye te bederf. Volgens Piet Snyman, skakelbeampte van die kerk, is die kinders se behoefte vir kos die grootste gedurende skoolvakansies. “Tydens skooltye ontvang hulle darem nog ‘n broodjie van die skool, maar in vakansietye is daar van die kinders wat soms sonder kos moet gaan slaap,” sê Snyman.
Met dit in gedagte, het ‘n werknemer van Rola Motors Johan Rossouw, 65 hamburgers by die kerk se maandelikse hamburgerdag op 29 Junie gekoop en vir elke kind in die karavaanpark een gegee. Die gebaar het ander sakemanne geïnspireer om elke maand vir die kinders hamburgers te koop. Die uitnodiging word aan die res van die Helderberg-gemeenskap gerig om die voorbeeld te volg. Belangstellendes of enigeen wat die dag wil borg, bel Sarel Meyer by 084 399 0009 of ds. Jan Claassen by 084 400 5137.
Hier van links is Sarel Meyer (organiseerder van die projek), Johan Rossouw, (skenker van die hamburgers), Sielie Shawn en ds. Jan Claassen, leraar van die Hervormde Kerk.
