TYGERBURGER (Goodwood) 26 September 2012 Bladsy 2
Om die mense in jou eie gemeenskap te dien, is die doel van Solidariteit Helpende Hand en Erika Botha-Rossouw leef die ideaal ten volle. Erika, wat in Melkbosstrand bly, is die streekorganiseerder van die Wes-Kaap. “Ons help mense om hulself te help. Solidariteit Helpende Hand is nie ‘n welsynsorganisasie nie, dit is ‘n hulp-organisasie,” beklemtoon Erika.
Die 120 takke wat Solidariteit Helpende Hand reg oor die land het, fokus daarop om Afrikaanssprekendes op ‘n selfonderhoudende manier by te staan. “Ons doen dit deur projekte soos die Kosblikkie-projek, Skooltassie-projek en Borg-’n-kind-projek, waar ons met laasgenoemde kinders beurse gee om skool toe te gaan en na skool te gaan studeer. So wil ons ‘n pad stap met die kind van die wieg tot die graf,” verduidelik sy. Erika sê armoede onder wit, Afrikaanse gemeenskappe is minder ooglopend as onder ander bevolkingsgroepe.
“Navorsing, wat ek van 2000 tot 2008 gedoen het oor waar armoede lê, het gewys daar is baie min nie-regeringsorganisasies wat in die wit gemeenskap werk. Ek noem dit die ‘stil armoede’, want die arm Afrikaners kruip weg en baie van hulle is in die middelklas.” Sy sê hulle maak staat op kerke en ander welsynorganisasies om diegene in nood aan hulle uit te wys. “Ons probeer hulle help voordat hulle by ‘n verkeerslig gaan staan om te bedel, want dan is dit al te laat. Dan het hulle baie keer reeds ‘n probleem met dwelm- of drankafhanklikheid.” Hoewel hulle konsentreer op die behoeftes van die armes in die gemeenskap is hulle nie ‘n eksklusiewe organisasie nie.
“Ons bou voortdurend netwerke met organisasies wat in ander gemeenskappe werk en daar waar ons mense teëkom wat hulp nodig het, verwys ons hulle,” sê Erika en voeg by dat hulle werk met die ACVV, Badisa en kerke se maatskaplike werkers, asook maatskaplike werkers in private praktyke. “Ons werk ook saam met ander geregistreerde nie-winsgewende organisasies in die Wes-Kaap, asook politieke partye en politieke besluitnemers in die Wes-Kaap wanneer dit nodig is. Erika het grootgeword in Gauteng. Na skool het sy by die Suid-Afrikaanse Reserwebank gaan werk, en deur die bank ‘n verskeidenheid bemarkingskursusse afgelê. Daarna het sy vir die departement openbare werke gewerk en was later in diens van die ministerie van onderwys, kuns en kultuur. Haar passie vir gemeenskapswerk het sy geleer by die destydse minister van die portefeulje, Eileen Nkosi-Shandu.
“Ek het by haar geleer hoe om jou eie gemeenskap te dien,” sê sy. In 1998 en 1999 het Erika die minister vergesel na Duitsland en Amerika, waar hulle kursusse bygewoon het oor gemeenskapsontwikkeling. Met hul terugkeer het hulle in KwaZulu-Natal onder die Zoeloegemeenskap gewerk. “Ek het in die swart kultuur geleer wat dit beteken om mekaar te help sodat jy jouself kan help.” Toe sy in 2000 siek word, het sy die ministerie verlaat, maar steeds met gemeenskapswerk voortgegaan. “Nadat ek diens verlaat het, het ek teruggekeer na die Wes-Kaap en ‘n besluit geneem om voortaan gemeenskapswerk onder minderbevoorregte witmense in die Wes-Kaap te doen,” vertel Erika. In 2008 het Helpende Hand hoofsaaklik op armoedeverligting in Gauteng gefokus. “Ek het met die (voormalige) hoof van die organisasie, dr. Dawie Theron, kontak gemaak om wit armoede in die Wes-Kaap onder sy aandag te bring. In samewerking met Theron, wat in daardie stadium naby aftrede was, en die nuwe hoof, dr. Danie Langner, het ek as vrywilliger die eerste streekkantoor van die Helpende Hand in die Wes-Kaap begin en bestuur.
Ek het vrywilligers begin mobiliseer om my in takverband by te staan.” Haar doel was (en bly) om ondersteunende opheffings- en werkskeppingsplanne daar te stel wat kan bydra tot die verbetering van die wit behoeftiges se lewenstandaarde. “Die roeping gee my die geleentheid om in my eie gemeenskap betrokke te raak en ‘n verskil in behoeftige kinders en volwassenes se lewens te maak. Dis vervullend om te sien hoe die onregte wat teen wit armes gepleeg word deur die regte kanale op politieke en burgerlike vlak hanteer word.”
Vir meer inligting, skakel Erika Botha-Rossouw by 072 195 6581.