ALIWAL WEEKBLAD 07 September 2012 Bladsy 15

Die nuut gestigte Solidariteit Helpende Hand tak Aliwal Noord het ‘n baie groot Gholfdag op, 01 September geloods met die uitsluitlike doel om onder andere hul fondse te versterk met die stig van ‘n Helpende Hand Beurs. Helpende Hand glo in die langtermyn oplossing om die armoede kringloop deur middel van opheffing deur opleiding te verbreek.

Meer as ʼn 100 Nasionale takke is ywerig besig om hierdie doel na te streef en fokus op jong mense, van kleuter tot student met potensiaal om sodoende hoop te skep en iemand se droom te bewaar. Op lentedag, vroeg oggend was ‘n ywerige groep spelers reeds op die gholfbaan en het die bitter koue en ‘n paar ysreëndruppels getrotseer, maar die warm en geesdriftige harte van die Helpende Hand span, gholfers en veral die borge, het die dag gou in ‘n sukses verander. Teen middagete is ‘n heerlike bordjie eetgoed genuttig en die gholfspelers kon hul tweede rondte van nege putjies aanpak.

Onder die spelers was bekendes en sommige van hulle reeds legendes, bestaande uit Danie Gerber, voormalige Springbok senter, Pieter Moller, een van die Vrystaat se gewildste omroepers, grapmaker en gasspreker, Anton la Grange voormalige losskakel van die Oostelike Provinsie en Heine Niehaus het ook al grappenderwys hou vir hou deur die baan gespeel. Die span van Barkly-Oos, bestaande uit, Peter Spence, Leon Reynders, D. Sephton en Wikus Bester, vaar baie goed en wen dan ook die eerste prys met 105 punte. Die damesspan van Aliwal-Noord, bestaande uit Liana White, Mariaan Newton, Marilyn Brewis en Arrow Monare het dan ook goeie spel gelewer en eindig negende.

Die uitslae van die res van die dag se spanne was as volg: Tweede met 104 punte — Charl Pagel, Carol Pagel, Jaco Louw en Jacques Venter. Derde met 104 punte — Oelof van Wyk, Flippie Smit, Greg Dalton en Pietie Nel. Vierde met 103 punte — Andy Bester, Francois Koen, Christopher Robberts en Annalet Robberts. Vyfde met 101 punte — Gilbert Pretorius, Werner Lombaard, Daan Hartkopf, en Johan Terblanche. Sesde met 101 punte – Riaan Hatting, Hugo Brewis, Simon Hugo en Tiaan Jooste. Sewende met 98 punte — Wanny du Toit, Danie Brand, Willem van Riet en Jan Wilken. Agste met 97 punte — Danie Botha, Pieter Christensen, Dewald Hatting en Robbert Fortuin. Die gholfdag is afgesluit met ‘n gesellige aandfunksie by die Laerskoolsaal. Aliwal-Noord se plaaslike kunstenaar, Andries Nel het reeds van vroegaand die gaste vermaak met lekker dansmusiek en Pieter Moller het gaste vermaak met sy kwinkslae. Danie Gerber het die oorhandiging van pryse aan die wenners hanteer.

Die gaskunstenaar vir die aand was die bekende sanger Zak Steyn met sy unieke stem. Aliwal Sound Services het bygedra tot die sukses van al die klank en visuele aanbiedings. Lorinda van Jaarsveld en haar span was verantwoordelik vir die keurige en smaaklike driegang maal. Solidariteit Helpende Hand se Streeksverteenwoordiger, Mev Vanessa Marais het die gaste ingelig oor die werksaamhede en doelstellings van die organisasie, asook maniere waarop die gemeenskap betrokke kan raak in die volledige diensketting. Helpende Hand Aliwal-Noord tak wil elkeen wat by hierdie gholfdag betrokke was opreg bedank vir hul bydraes om van hierdie fondsinsamelingsprojek ‘n reuse sukses te maak. Vir enige navrae of betrokkenheid kan Johan Botha, voorsitter van die tak gekontak word by 071 866 8835.

Helpende Hand Gholfdag wenspan — Barkly-Oos saam met Danie Gerber.