Mense van regoor die land het reeds gehoor gegee aan Solidariteit Helpende Hand se versoek om in die week van 18 tot 22 Junie deel te neem aan die 110 Doen Goed-projekte veldtog.

Die Solidariteit Beweging is vanjaar 110 jaar oud en Helpende Hand vier die geleentheid op ʼn besonderse wyse. Om die mylpaal te vier, nooi Helpende Hand elke burger in die land uit om in Junie deel te neem aan die 110 Doen Goed projekte-veldtog.

Deelnemers kan tussen 18 en 22 Junie enige weldaad aanpak in hulle gemeenskap. Die slagspreuk vir die veldtog is Doen Goed, Voel Goed, Wees Goed. Die idee is dat weldoeners besef hoe lekker dit is om ʼn goeie daad te verrig en dit dan meer gereeld aanpak. Sodoende kom hulle in die ritme van gee.

Deelnemers kan as individue of spanne deelneem en kan ook meer as een projek aanpak.

Deelnemers kan die registrasievorm op Helpende Hand se webwerf (www.helpendehand.co.za) kry en dit aan diens@helpendehand.co.za terugstuur vir koördinering. Op die webwerf is ook ʼn projektelys om voornemende deelnemers se idees te prikkel.

Deelnemers word dan ook aangemoedig om foto’s en video’s van die verrigtinge aan Helpende Hand te stuur.

Die heel eerste inskrywing kom van die MHB-span, wat vir ongeveer 80 bejaardes ’n bietjie sonskyn gaan bring met ’n konsert. Verder gaan spanne onder meer komberse uitdeel vir behoeftige kleuters, minderbevoorregte kinders uitvat na ʼn restaurant, haglike blyplekke opruim en verbeter, vir bejaardes kniekombersies brei en opvoedkundige speelgoed skenk vir ʼn behoeftige skool se speelkamer.

’n Groot aantal personeellede van die Beweging is ook betrokke by Helpende Hand se hoofkantoorprojek. Met hierdie projek word Hoërskool Hercules in Pretoria-Wes heeltemal opgeknap. Alles – van die geute tot die voorportaal, tuine en selfs brandblussers – gaan vervang en verbeter word.

Luister gerus ook na ʼn onderhoud oor die Solidariteit Beweging se betrokkenheid by Hoërskool Hercules vir die veldtog.

Daag jou vriende uit om ook deel te neem en maak ʼn verskil.