MOSSELBAY ADVERTISER 24 Augustus 2012 Bladsy 15
Solidariteit Helpende Hand se krag lê in sy meer as 100 takke landswyd. Om kop te hou met die organisering van al die takke se projekte en vrywilligers, verg die bekwaamheid van ‘n besondere persoon, ‘n toegewyde streekorganiseerder. Helpende Hand se streekorganiseerder in die Suid-Kaap het weinig bekendstelling nodig, maar vir die wat haar nog nie ontmoet het nie, stel ons graag Mariaan Mans bekend.
Mariaan Mans is ‘n Vrystaatse boeremeisie wat op ‘n plaas naby Brandfort gebore en getoë is. Sy en haar gesin het in 1995 vanaf De Aar in die Noord-Kaap na Oudtshoorn verhuis en is nou al 17 jaar lank woonagtig in die warmste dorp in die Suid-Kaap. Sy is getroud met Chris Mans en hulle het ‘n seun, dogter en spog reeds met ‘n driejarige kleinseun. Mariaan was jarelank verbonde aan Standard Bank, onder meer as bemarkingsassistent by Stanfin. Tussendeur was sy ook by Saambou en haar laaste betrekking voor Helpende Hand was by ‘n plaaslike motorhandelaar. Sy beskryf haar betrokkenheid by Solidariteit Helpende Hand as ‘n passie.
Haar ma was baie betrokke by armoedeverligting en sy het grootgeword met die gedagte dat mense in nood bygestaan moet word. Sy hou daarvan om in haar ma se voetspore te volg en haar werk voort te sit. Sy kry ook werksbevrediging wanner sy sien hoe werklik ‘n verskil in mense se lewens gemaak word. Sommige projekte staan egter wel uit bo die res, en sy beskou die daarstelling van ‘n studiesentrum waar kinders ná skool ekstra wiskunde- en taalklasse ontvang as so ‘n projek. By Helpende Hand word geglo die stryd teen armoede is ‘n stryd vir goeie opleiding. Opheffing deur opleiding is die antwoord. Tog is die werk soms uitmergelend, en sy sê dis hartverskeurend om te sien dat party mense nie uit hul omstandighede wit ontsnap nie.
‘n Mens voel magteloos as ouers nie vir hulle kind ‘n toekoms kan bied nie, en boonop nie wil toelaat dat die kind geleenthede in die lewe kry nie. Mariaan sien tans om na sewe gevestigde takke en vyf takke wat aansoek om takstigting gedoen het. Daar word gehoop om binne die volgende ses maande nog drie takke te stig. Helpende Hand werk nou met ander organisasies saam, onder andere, die ACVV, Badisa, Kinder- en Gesinsorg, die CMR, diensorganisasies soos die Lions en die Vryburgers, die ATKV, VLV en dan natuurlik al die verskillende kerke.
Mariaan se raad is, “Volg jou hart, as jy geroepe voel om ‘n verskil in jou eie gemeenskap te wil maak is Helpende Hand die plek waar jou hand iets gaan vind om te doen. Raak betrokke en moenie apaties staan teenoor jou gemeenskap nie, want elkeen het ‘n verantwoordelikheid om ‘n verskil in sy eie gemeenskap te maak. Begin by jou eie Jerusalem!”
Mariaan Mans kan gekontak word by 072 228 0177 of mariaan@helpendehand.co.za.