REKORD 04 September 2012

Solidariteit Helpende Hand, ’n gemeenskapsorganisasie wat nood in verskeie omgewings aanspreek, het onlangs ’n nuwe tak in Wonderboom geopen. Dié tak se bestuurslede gaan hulle daarop toespits om veral betrokke te raak by kinders se behoeftes in die Wonderboom-area en omliggende gebiede. Volgens Gerrie Botha, ’n inwoner van Montana en voorsitter van die nuwe Wonderboomtak, is mense geneig om nie altyd die nood in ’n omgewing raak te sien nie.

“Ons dink dit gebeur nooit in ons omgewing nie, maar dit is daar. Dink net aan hoeveel kinders daar is wat in sport uitblink, maar hul ouers het nie die geld om sporttoerusting te koop nie. Ons wil graag hier uithelp,” het Botha gesê. Botha het verduidelik dat die tak nie uitsluitlik op die jeug se behoeftes gaan fokus nie, maar ook ander behoeftes in die omgewing gaan aanspreek.

“As ’n huis dalk afbrand en daar is nie kos, klere of enigiets nie, dan is ons daar om uit te help. As ’n buurman besef sy bure kry baie swaar, dan is ons daar,” het Botha gesê. Volgens Botha was daar al vantevore ’n Wonderboom-tak wat ongelukkig doodgeloop het.

“Die lede doen alles op ’n vrywillige grondslag. Dit is jou eie tyd wat jy moet gee en soms raak dit uitdagend en dit is moontlik waarom die tak doodgeloop het. Ons is egter gereed om nuwe lewe in die Wonderboom-tak te blaas.”

Botha het gesê die tak gaan vir eers daarop fokus om hulleself aan die omgewing bekend te stel, die nodige geld in te samel en ’n jaarbeplanner vir die 2013-seisoen op te stel. “Ons is verder besig om met verskeie bekende persoonlikhede te skakel om te kyk met wie ons kan saamwerk. Ons het regtig groot planne vir die toekoms,” het Botha met ’n knipoog verklap.