Helpende Hand se Vaalwater-tak het ‘n beursfonds vir die Vaalwater area gestig. Die Vaalwater Beursfonds is gemik op jongmense van die Vaalwater omgewing wat verder wil studeer, of ‘n ambag aan leer of ‘n werk wil betree. Die beursfonds gaan van volgende jaar af aktief die ondersteuning aan jongmense gee en het reeds fondse deur veilings ingesamel. Mpatamacha is ‘n groot ondersteuner van Helpende Hand Vaalwater en deur hul ondersteuning kon die tak reeds fondse in die beursfonds oorbetaal.
Nasionale aansoeke vir Helpende Hand beursfondse sluit einde Oktober. Enige aansoeke kan aan Helpende Hand per web of faks gestuur word. Hoofkantoor sal alle geldige aansoeke van Vaalwater omgewing deurgee aan die beurskomitee van die Vaalwater tak. Saam met die nasionale beursfonds bestuur sal die komitee volgens vasgestelde kriteria besluit aan wie die beurs toegestaan sal word. Om jongmense toe te rus vir die werksmark is die enigste manier om die armoede siklus te verbreek. Daar is niks meer bevredigend om jongmense te help om hul potensiaal te bereik as dit vir hul nie moontlik is om dit self te doen nie.
Ons op Vaalwater help graag ons jongmense en Helpende Hand Vaalwater maak staat op die gemeenskap om die beursfonds te ondersteun sodat ons elke jaar meer jongmense kan help. Skakel Retha by 0827824205 of skakel Helpende Hand Hoofkantoor vir inligting om ʼn donasie aan die Vaalwater Beursfonds te maak. Ander projekte waarby vrywilligers en donateurs betrokke kan raak is die Borg ‘n kind fonds wat behoeftige kinders wil help op skool vlak. Helpende Hand se fokus is opheffing deur opleiding. As gevolg van die projekte het talle nuwe ondersteuners die jaar reeds aangesluit by Helpende Hand en word takke nog steeds landswyd gestig waar daar ‘n behoefte is.