ONS STAD, MIDLAND NUUS, STANDERTON IBIS, ALIWAL WEEKBLAD, SUID-KAAP FORUM, KLERKSDORP MIDWEEK
‘n MASSA-EETSTAKING ten bate van ongeveer 3 200 behoeftige kleuters het volgens die organiseerders hul verwagtinge oortref. Solidariteit se Helpende Hand het op 26 en 27 Julie die geld vir die nasionale Kosblikkieprojek bymekaargemaak. Juanita du Preez, mediaskakelbeampte, sê: “Ongeveer R90 000 is met die eetstaking ingesamel.
“Die bedrag is egter net meer as 10% van die Kosblikkieprojek se jaarlikse uitgawes van R750 000.” Sy sê Helpende Hand bereik vanjaar ongeveer 3 200 behoeftige kleuters met die Kosblikkieprojek. Sy sê die projek het die afgelope drie jaar gegroei tot ‘n omvattende antwoord op die ontwikkeling van behoeftige kleuters in Suid-Afrika. Dit behels ‘n voedingsprojek waardeur kleuters gesonde etes by kleuterskole kry. Dit behels ook die opleiding van nagenoeg 2 000 ouers en versorgers (hoofsaaklik kleuterskool-assistente) en om opvoedkundige speelgoed aan kleuterskole en gr. 0-klasse te voorsien.
“Ons is so dankbaar vir elke mens wat ‘n SMS gestuur het, ‘n kosblikkie teen R50 gekoop het of ‘n bedrag regstreeks in ons bankrekening betaal het,” sê Lindie Strydom, die projekorganiseerder. “Om die uitdagings oor vroeë kinderontwikkeling voorkomend te takel deur voedingsprojekte by kleuterskole, die opleiding van kleuterskool-assistente, die verskaffing van ouerleiding, maatskaplike ondersteuning en die beskikbaarstelling van opvoedkundige materiaal moet die gemeenskap werklik by die projek betrokke raak.” Sy sê die behoefte van die projek neem elke jaar toe.
Enigeen wat nog graag wil help om ‘n verskil te maak aan ‘n honger kind se lewe, kan R10 skenk deur die woord “Kosblik” te SMS aan 38657.