LOOK LOCAL (Kempton Express) 18 Julie
SOLIDARITEIT Helpende Hand se Kemptonpark-tak is besig om rokke en bykomstighede vir behoeftige meisies in te samel sodat dié meisies ook in styl hul matriekafskeid kan bywoon.Mev Ella Pieterse, voorsitter van die tak, versoek die gemeenskap om aandrokke, juwele, skoene en grimering vir die matriekafskeidprojek te skenk. “Ons wil nie hê een meisie moet hierdie geleentheid laat verbygaan omdat sy dit nie kan bekostig nie,” het Pieterse gesê.
“Ons verkies dat matriekleerders eerder fokus op hulle studies as om hulle te kwel oor klere en grimering vir die matriekafskeid.” Meisies sal deur hierdie projek ‘n aandrok, skoene, juwele en grimering kry. Indien die persoon dit kan bekostig, word ‘n fooi van R50 versoek.
Die rokke word na afloop van die projek weer versprei na ander organisasies wat trourokke en strooimeisierokke daaruit skep vir behoeftige vroue.
Skakel Pieterse by 082-406-3655.