Solidariteit Helpende Hand se Port Shepstone-tak het op 20 Maart Maatskaplikewerkdag saam met die meer as 15 000 geregistreerde maatskaplike werkers in die land gevier.
Maatskaplike werk is ʼn gespesialiseerde beroepsveld en word geklassifiseer as ʼn skaars en kritieke vaardigheid. Daar is ʼn enorme tekort aan opgeleide, geregistreerde maatskaplike werkers in die land. Na raming word nog 40 000 maatskaplike werkers benodig.
“Helpende Hand werk baie nou saam met ander maatskaplike instellings om ondersteuning te bied vir die maatskaplike euwels wat die vlaag van armoede in Suid-Afrika veroorsaak,” sê dr Danie Brink, die uitvoerende hoof van Solidariteit Helpende Hand. “Ons besef terdeë hoe waardevol toegewyde maatskaplike werkers vir die land is.
Die Port Shepstone-tak se voorsitter en sekretaris Wynand en Joe Smith het op die dag by die plaaslike polisie se Kindersorg- en Gesinsgeweldeenheid besoek afgelê. Die lede van die eenhede is elkeen bederf met ʼn kolwyntjie, ʼn sakkie suiglekkers en ʼn kaartjie van waardering vir hulle werk in die gemeenskap.
Volgens Smith het die tak hierdie eenhede uitgesonder omdat hulle soveel goeie gemeenskapswerk verrig. “Die meeste van die tyd word die werk wat hierdie mense doen net as vanselfsprekend aanvaar, want die gemeenskap voel dikwels hulle word ʼn salaris betaal en moet werk vir die salaris,” sê Smith. “In werklikheid is die werk wat hulle verrig baie belangrik, want hulle is verantwoordelik vir die welsyn van kinders wat swaar kry. Die klein blykie van waardering vanaf Helpende Hand Port Shepstone moet help om vir hulle te wys dat daar mense in die gemeenskap is wat hulle werklik waardeer en voel dat hulle werklik nodig is om te help om ʼn verskil te probeer maak aan al die hartseer en seer daar buite.”
Die kolwyntjies is geskenk deur Adele’s Pantry in Margate.
Indien jy ook by die Port Shepstone-tak betrokke wil raak kontak Wynand Smith by 082 925 6153.
Lees gerus meer oor die kwessies rondom maatskaplike werk in ʼn uitgebreide artikel by hierdie skakel.