HUISGENOOT TEMPO 01 Jun 2012 Bladsy 62

Sondagaande is sy die stralende gesig in die aanbiederstoel van die kykNET-Program DKNT Gospel. En nou is Lindie Strydom ook een van die beoordelaars in die gospelafdeling van die Huisgenoot-Tempo-Toekennings.

Jy kan maar sê sy is die gesig van gospel in Suid-Afrika. Lindie Strydom lag dié etiket met ‘n swaai van haar hand weg. Sy het wel die afgelope twee jaar as DKNT Gospel-aanbieder baie musiekondervinding opgedoen, maar sy wil haar darem nou nie as ‘n kenner beskou nie, sê sy. “Ek voel egter regtig geëerd om ‘n beoordelaar te wees.”Sy praat natuurlik van Huisgenoot se Tempo-toekennings, waar sy binnekort ‘n beoordelaar in die gospel-afdeling gaan wees. Daar is ‘n paar kriteria wat vir haar belangrik is wanneer dit by gospel kom, sê sy. “Die liedjie moet oorspronklik wees en ‘n nuwe, vars klank hê. Dan probeer ‘n mens ook bepaal of dit by die publiek sal vassteek, of kerke dit sal wil speel en of dit sal verkoop. Die gehalte van die algehele produksie speel ook ‘n rol.” Is dit nie ‘n moeilike hoed om te dra nie?

“Kyk, uiteindelik is alle kunsbeoordeling ‘n subjektiewe mening,” sê die blondine, wat 12 jaar lank die rol van Karin Edwards in die M-Net-sepie Egoli vertolk het. Ondanks die groot aanhang wat die gospelmark vandag het, bly daar tog hardnekkige skinderstories dat dié genre niks meer as net ‘n geldmaakfoefie is nie, en boonop van swak gehalte. Dis stories soos dié wat Lindie sommer dadelik wil nekomdraai.

“Om die gospelmark te betree is ‘n uitdaging en elke kunstenaar moet selfondersoek doen oor die doel van sy musiek. Is dit om gewild te wees of is dit om Jesus se boodskap uit te dra? Elke opregte lied móét by Jesus begin — dan gaan dit nie oor die geld of gewildheid nie. Onthou ook dat die kopermark in Suid-Afrika maar klein is vergeleke met oorsese lande. Daarom kan geen kunstenaar — ongeag sy genre — bekostig om ‘n swak produk op die rakke te hê nie. Een van die beste eienskappe van ‘n nuwe album is juis dat dit bo duisende ander moet uitstaan.” En dit is juis ‘n hoofdoel van haar TV-program: Dit moet ‘n platform vir kunstenaars bied en ‘n nuuskierigheid by kykers skep om meer van ‘n nuwe CD of opkomende kunstenaar te wil weet, som sy dit op.

Dan is daar boonop daardie bekende sprankel in haar persoonlikheid wanneer sy in die aanbiederstoel sit. Hoe dan anders? wil sy weet. “Ek is so opgewonde om die Goeie Nuus te bring! Dit is maar net hierdie natuurlike opgewondenheid in my wat oorborrel!” En die publiek hou daarvan, want op die program se Facebook-profiel stroom die boodskappies in van kykers wat dankie sê vir die motivering en inspirasie wat sy in hul lewe bring. Lindie, wat in 1998 tot bekering gekom het, is juis die afgelope 11 jaar ook ‘n geestelike motiveringspreker wat op talle geleenthede oor die land heen optree. Verlede jaar was sy die naaswenner in die tydskrif Finesse se toekenningsafdeling vir inspirerende vrou van die jaar, wat deur die DA-leier, Helen Zille, gewen is. “Ek sal enige dag in haar skadu leef,” sê Lindie. “Die toekenning was ‘n eer, maar daar skuil meer daaragter: die dankbaarheid om die talent te hê, en om in ‘n werksituasie te wees waar ek elke dag God se koninkryk kan uitdra.”

Dit is met dieselfde dankbaarheid dat sy die huidige bloeitydperk in gospelmusiek ervaar — sy voel dit kan veral toegeskryf word daaraan dat daar die laaste paar jaar ‘n baie besliste beweging nader aan Jesus is. “Jy kan dit sien in die groter meelewing wat daar in ons kerke is asook at die massabyeenkomste, en natuurlik soek dié mense musiek waarmee hulle kan identifiseer. Iets wat jy die oggend op pad werk toe in die CD-speler kan druk om Jesus te loof — mense wil nie meer net beperk word tot Sondae om dit te doen nie. “Met dié ál groter mark is die behoefte natuurlik daar vir al meer nuwe musiek.” Die afgelope drie jaar het musiekblyspele soos Houtkruis, Ester en nou Dawid teaters vol gemaak.

“Ja,” sê Lindie. “Die musiek van God is lankal nie meer vasgevang tussen die vier mure van die kerk nie. Dit het uitgebreek en gaan nou na die mense. Dadelik word ‘n baie wyer gehoor aan die evangelie blootgestel, iets wat 10 jaar gelede nie noodwendig so was nie. Skielik hoor mense wat miskien nog nooit in die kerk was nie, geestelike musiek. En dit plant dan die saadjie wat hulle na Jesus toe lei. Die krag van musiek moet nooit onderskat word nie!”

Sy onthou die keer toe Nina, haar vierjarige dogtertjie, vir haar gesê het: “As ek eendag Bo kom, gaan ek net vir Liewe Jesus sing.” “Sy is nog so klein, maar reeds het die musiek op haar ‘n impak gemaak.” Moderne gospelmusiek is ligjare verwyder van die gewyde en gedempte Christelike musiek waarmee vorige geslagte grootgeword het. Dit is veral omdat die kerk vandag anders oor musiek dink as in die verlede, verduidelik sy. “Daar is nou ruimte vir alle Christene se uiteenlopende musieksmaak. As jy byvoorbeeld van rockmusiek hou, wil jy graag na jou gospel in ‘n rockbaadjie luister. Net so sal countryliefhebbers weer ‘n countrystyl verkies. Dit is nie die musiekstyl wat saak maak nie; dit is die boodskap wat tel.”

Dit laat natuurlik baie ruimte vir kritiek, veral vanuit die geledere van meer behoudende mense. Daar is immers gospelsangers en -groepe wat met hul swaargewig-rockorkeste en beligtingseffekte ou hande soos Deep Purple na ‘n Sondagskoolpiekniek laat lyk. Maar Lindie het hieroor ‘n baie oopkop benadering. “Mense se musieksmaak verskil en daar is ruimte in die gospelmark vir almal.” Sy self luister na ‘n wye verskeidenheid musiek, sonder om ‘n spesifieke styl bo die ander te verkies. Maar in die land van geestelike musiek heers daar nie net vrede nie. Di bedryf word ook geruk deur sogenaamde skandes — soos buite-egtelike ekskursies en egskeidings wat in die media uitgebasuin word.

Ja, die publiek hou die gospelkunstenaars met valkoë dop, beslis baie meer as sekulêre kunstenaars, se Lindie. “Miskien vergeet hulle dat Christene feilbare mense is en ook foute en sondes het, maar ek voel ook dat daar vanweë dié platform beslis ‘n baie groter verantwoordelikheid op die mense se skouers is as op ander.” Haar eie grootste verantwoordelikheid is om ‘n heeltydse ambassadeur vir Jesus te wees, sê sy. En haar doelwitte en toekomsplanne? Hieroor hoef sy nie na te dink nie. “Die lewe gaan nie oor my eie drome nie,” sê sy dadelik. “Vir my gaan dit oor hoe God my kan aanwend om sy koninkryk uit te bou.”