BEELD (Oos Rand) 25 Julie 2012 Bladsy 3

Dit is weer tyd vir Solidariteit Helpende Hand se massa-eetstaking ten bate van behoeftige kinders. Mense word uitgedaag om môre en oormôre sonder kos te bly (vir enige 24 uur in die tydperk) en die geld wat aan kos bestee sou word, aan Helpende Hand te skenk. Die geld sal gebruik word om voedingskemas in behoeftige Afrikaanse kleuterskole en gr. R-klasse te ondersteun.

Agt skole in Ekurhuleni vind tans baat by die projek. Helpende Hand se eerste landwye massa-eetstaking het in 2011 met behulp van sosiale media binne agt uur R65 000 ingesamel. SMS die woord “kosblik” na 38657 en skenk so R10 vir die organisasie se Kosblikkieprojek. Besoek Helpende Hand se Facebook-blad op 26 en 27 Julie om te sien hoe die geldinsameling vorder. Vir meer inligting, bel Adele Kruger, Gauteng-Suid se streeksorganiseerder, by 079 8813338. Intussen het Solidariteit Helpende Hand aangekondig dat die organisasie R1,15 miljoen in die volgende jaar in gemeenskappe gaan terugploeg.

‘n Nuwe takfinansieringsplan maak dit moontlik om R10 000 aan elke Helpende Hand-tak te gee vir elke 15 nuwe ondersteuners wat by ‘n tak aansluit. Die plan verseker dat ondersteuners se geld ten volle in hul eie gemeenskappe aangewend word. “By Solidariteit Helpende Hand volg ons ‘n beleid van bemagtiging en opheffing deur middel van opleiding, want ons glo dat dit die beste manier is om armoede uit te roei,” sê Danie Brink, die uitvoerende hoof van Helpende Hand. Om betrokke te raak, bel Ziegfried van Huyssteen by 082 854 7777.