NOORDKAAP 27 Junie 2012 Bladsy 2

Om kop te hou met al die takke van Solidariteit Helpende Hand se projekte en vrywilligers verg die bekwaamheid van ‘n besonderse persoon. ‘n Streekorganiseerder. Vanessa Marais, streekorganiseerder van Solidariteit Helpende Hand, vertolk daardie rol in Kimberley. Daar is landwyd 115 takke wat in tien streke verdeel is. Marais is in Bloemfontein gebore en getoë en woon haar hele lewe lank in die Vrystaat.

Is jy getroud, het jy kinders?

Ek is geskei en het ‘n dogter van 20.

Wat het jy vantevore gedoen?

Ek het vier jaar lank huishoudkunde aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) gestudeer. Daarna het ek 18 jaar lank as ‘n streekhuishoudkundige in die Vrystaat gewerk. Ek was 25 jaar lank tot so ver as Namibië betrokke by opleiding, seminare en demonstrasies op al die terreine van huishoudkunde. Ek het ook beoordelaars in goed soos borduurwerk, masjienwerk, brei en hekel en die kunste opgelei. Ek was terselfdertyd ook intens betrokke by die ATKV. Ek het in die vrouekomitee van die direksie gedien en was ook 12 jaar lank die voorsitter van die Bloemfonteintak.

Hoekom het jy by Helpende Hand betrokke geraak?

Ek kon my vlerke wyer strek, my horisonne verbreed en verder vlieg. Boonop hou ek van uitdagings. Dit is vir my belangrik om daar waar ek geplaas is, ‘n verskil te maak. Mense en hul behoeftes 16 my na aan die hart en ek hou daarvan om met mense te werk en vooruitgang te bewerkstellig. Toe die deur vir my by Helpende Hand oopgaan, het ek dit aangegryp.

Hoekom bly jy betrokke?

Eerstens is Helpende Hand ‘n vereniging waarmee ek myself kan vereenselwig. Die vereniging is suksesvol, praat die waarheid, leef sy standaarde uit, toon vooruitgang, praat nie net nie, maar doen, en het hoe aansien by ons mense en dwing respek af. Tweedens het ek in my lewe geleer om negatiewe gebeure in iets positiefs om te skakel. Daarom is dit vir my ‘n wonderlike geleentheid om ook op geestelike terrein mense te bemoedig. ‘n Probleem is vir my ‘n uitdaging om op te los en dit is ‘n absolute vreugde om die negatiewe van armoede om te skakel in iets positiefs. Helpende Hand bied vir my die geleentheid om groot en wyd te dink, asook om al my ondervinding in die lewe uit te leef en toe te pas.

Wat is die beste deel van jou werk?

Om oor die wye spektrum van my werk ‘n verskil te beplan en later die verskil te kan beleef begin altyd met die eindproduk in gedagte en dit is vir my ook ‘n voorreg om takke met hul groot werk en projekte te ondersteun.

Watter projek het tot dusver vir jou uitgestaan?

Die entrepreneursprojek van Christenburg op Bethlehem. Soveel mense het hul talente deur een bestuurslid se inisiatief ontdek en almal is in rep en roer om iets te produseer om ‘n paar ekstra rand te maak. Van die mense kon vanweë meer geld ‘n beter blyplek bekostig en het verhuis.

Wat geniet jy nie van jou werk nie?

Die bemiddeling van gedurige konflik tussen mense en die baie ry op ons slegte paaie.

Hoeveel takke is in jou streek?

Daar is altesaam 16- ‘n groot deel van die Vrystaat en ‘n gedeelte van die Noord-Kaap.

Watter raad kan jy gee vir iemand wat graag in die gemeenskap betrokke wil raak?

Bly gefokus op Helpende Hand se uitkoms vir die armoedekrisis, al beleef jy nie dadelik die resultate nie. Volhoubare en langtermynsuksesse gebeur nie oornag nie. Hê ‘n passie vir jou medemens en voel sy of haar hart. Moenie armoede in stand hou nie, maar skep saam ‘n toekoms.