VOLKSBLAD 21 Aug 2012 Bladsy 4

Om die vele uitdagings van ouerskap te takel, hou Solidariteit Helpende Hand en Hettie Brittz Immergroen Ouerskap-seminare oor die land heen. Sowat 60 ouers van die Pre-Primêre Skool Dr. C.F. Visser in Estoire, Bloemfontein, is Saterdag op die Immergroen Ouerskap-seminaar touwys gemaak oor hoe om goeie verhoudings met hul kinders te bou.

Die omvattende seminaar word oor die land heen aangebied en gee ook wenke aan ouers oor hoe om hul kinders te hanteer, dissipline toe te pas en wedersydse respek te handhaaf. Vanessa Marais, Vrystaatse organiseerder van Helpende Hand, sê die Immergroen-ouerleidingprojek is deel van Helpende Hand se Kosblikkie-projek wat die afgelope drie jaar so gegroei het dat dit nou ʼn omvattende antwoord vir die holistiese ontwikkeling van behoeftige kleuters in Suid-Afrika is. Marais sê die Kosblikkie-projek verskaf voedsame etes aan sowat 3 200 behoeftige kinders van kleuterskole waarvan die Bloemfonteinse kleuterskool een is.

Die Kosblikkie-projek spits hom hoofsaaklik toe om ‘n kindervriendelike omgewing te ontwikkel sodat opvoeding bevorder kan word. As deel van die projek word sowat 2 000 ouers en versorgers ook opgelei en opvoedkundige speelgoed word aan kleuters uitgedeel. Marais sê Brittz en haar span ouerskap-fasiliteerders bied die ouerskapseminare aan omdat daar ‘n duidelik behoefte aan goeie ouerleiding is. Brittz het die program saamgestel nadat sy en haar man die bekende gospelsanger, Louis Brittz, in 2010 deur gewapende rowers in hul huis in ‘n veiligheidsbuurt in Centurion, Pretoria, oorval is, waarna Louis ontvoer en Hettie verkrag is. Ilse Nel, hoof van die Pre-Primêre Skool Dr. C.F. Visser, sê sy is verbaas dat soveel ouers die seminaar Saterdag bygewoon het. “Dit wys hulle soek hulp.”