Mediaverklaring
Solidariteit Helpende Hand
9 Mei 2012
Beursaansoeke by Solidariteit Helpende Hand se Afrikaanse Beursinstituut oop
Aansoeke om beurse en rentevrye beurslenings by die Afrikaanse Beursinstituut het in Mei geopen.
Die Afrikaanse Beursinstituut is in 2003 gestig om finansiële ondersteuning aan Afrikaanse studente te bied. Sedertdien het die beursplatform gegroei tot 65 beurse. Vanjaar is R7 miljoen se beurslenings aan 529 behoeftige studente toegeken. In totaal is daar al ongeveer 2 500 studente gehelp.
Volgens Dr Danie Brink, die uitvoerende hoof van Solidariteit Helpende Hand, is die Afrikaanse Beursinstituut ʼn manier om die organisasie se beleid van bemagtiging en opheffing deur opleiding, verder te voer. “Ons glo hierdie beleid is die beste manier om armoede uit te roei,” sê Dr Brink. “Helpende Hand se omvattende dienswaardeketting bied ʼn deurlopende begeleidingsproses wat geestelike, kulturele en maatskaplike armoede aanspreek en ʼn kleuter, kind, student en jongmens uiteindelik help om voor te berei vir die wêreld van werk,” sê hy.
Vanjaar fokus Helpende Hand veral op die uitbou van die beursplatform sodat nog meer voornemende studente ook die geleentheid kan kry om hulle te bekwaam om ʼn bydrae tot die ekonomie en hul eie familie te kan lewer. Helpende Hand doen dan ook ʼn beroep op persone wat hulle eie beursfonds wil begin om hulle te kontak by 012 644 4390. Die beurshouers bepaal hulle eie kriteria van watter student(e) gehelp moet word en die fonds word net deur die Afrikaanse Beursinstituut geadministreer.
“Die beurskonsep maak werklik ’n groot verskil in so baie kinders se lewens,” sê Dinah Theron, die hoof van die Afrikaanse Beursinstituut. “Individue, wat van ander afhanklik was om ʼn bestaan te voer, kan na afloop van hul studies nou onafhanklik funksioneer. Ongelukkig kon ons as gevolg van beperkte fondse nie almal help wat aansoek gedoen het nie en moes ons duisende kinders wegwys.”
Om deel te word en by te dra tot ʼn beter toekoms, kontak Dinah Theron by 012 644 4428, of by dinah@helpendehand.co.za.
Die aansoeke is oop tussen 1 Mei en 31 Oktober 2012 vir studiehulp in 2013. Besoek gerus die webwerf by www.helpendehand.co.za vir die aansoekvorms of kontak Melani Gerber by 012 644 4428 of melani@helpendehand.co.za.
Mediaskakelbeampte:
Juanita du Preez
Solidariteit Helpende Hand
Tel: 012 644 4390
Sel: 074 500 3915
E-pos: juanita@helpendehand.co.za