Helpende Hand en Die Dameskring
8 Oktober 2012
Dameskring en Helpende Hand versprei beddegoed in Mpumalanga
Die kultuurorganisasie Die Dameskring het na afloop van hulle tweejaarlikse beraad beddegoed aan die gemeenskap van die groter Mbombela-omgewing geskenk. Solidariteit Helpende Hand sal die skenking na behoeftige gesinne en kinderhuise in die omgewing versprei.
Lynn Kruger, die uitvoerende hoof van Die Dameskring, sê die tema van vanjaar se beraad was Op ons spore terug na môre. “Ons het daarom besluit om ons voetspoor te laat in die omgewing waar ons die beraad gehou het,” sê sy. “Ons hoop om hierdeur by te dra om die gemeenskap te bemagtig.”
Die Dameskring het besluit om die 130 stelle beddegoed, elkeen bestaande uit ’n kwiltdeken, lakens, kussing en slope, wat hulle spesifiek vir die beraad gebruik het, deur Helpende Hand aan behoeftiges te skenk. Die beddegoed sal aan 60 kinders in kinderhuise en sowat 45 gesinne in die omgewing versprei word.
“Helpende Hand glo dat opheffing-deur-opleiding die beste manier is om armoede op die lange duur uit te wis,” sê dr. Danie Brink, die uitvoerende hoof van Helpende Hand. “Ons vat nogtans graag hande met ander organisasies soos Die Dameskring om ook te voorsien in die onmiddellike nood wat met armoede gepaardgaan.”
Mediaskakelbeampte:
Juanita du Preez
Solidariteit Helpende Hand
Tel.: 012 644 4390
Sel: 074 500 3915
E-pos: juanita@helpendehand.co.za
