Mediaverklaring
Solidariteit Helpende Hand
3 Augustus 2012
Groot sukses van Helpende Hand-eetstaking nog net druppel in emmer
Solidariteit Helpende Hand se massa-eetstaking ten bate van die nasionale Kosblikkieprojek op 26 en 27 Julie was baie suksesvol en het die organisasie se verwagtinge oortref. Ongeveer R90 000 is tydens die eetstaking ingesamel. Hierdie bedrag is egter net meer as 10% van die Kosblikkieprojek se jaarlikse uitgawes van R750 000. Helpende Hand bereik vanjaar ongeveer 3 200 behoeftige kleuters met die Kosblikkieprojek. Die projek het die afgelope drie jaar gegroei tot ’n omvattende antwoord op die holistiese ontwikkeling van behoeftige kleuters in Suid-Afrika. Dit behels ’n voedingskema waardeur kleuters voedsame etes by kleuterskole ontvang; die opleiding van nagenoeg 2 000 ouers en versorgers [kleuterskoolassistente]; en die verskaffing van kratte gevul met opvoedkundige speelgoed aan kleuterskole en graad R-klasse.
“Ons is so dankbaar vir elke persoon wat ’n SMS gestuur, ’n kosblikkie teen R50 gekoop of ’n bedrag direk in ons bankrekening betaal het,” sê Lindie Strydom, die projekorganiseerder. “Om die uitdagings rakende vroeë kinderontwikkeling voorkomend aan te spreek deur voedingskemas by kleuterskole, die opleiding van kleuterskoolassistente, die verskaffing van ouerleiding, maatskaplike ondersteuning en die beskikbaarstelling van opvoedkundige materiaal, moet die gemeenskap werklik by die projek inkoop. Die behoefte aan die ondersteuning wat die projek bied, neem elke jaar toe.”
Om ’n simboliese kosblikkie teen R50 te koop en sodoende vir ’n behoeftige kleuter die geleentheid te gee om met ’n gelyke kans weg te spring, SMS die woord ‘hand’ na 34388 en ’n agent sal jou skakel.
Mediaskakelbeampte:
Juanita du Preez
Solidariteit Helpende Hand
Tel: 012 644 4390
Sel: 074 500 3915
E-pos: juanita@helpendehand.co.za