Solidariteit Helpende Hand
17 September 2012
Helpende Hand ontvang groot skenking by Worthy Women-konferensie
Solidariteit Helpende Hand het na afloop van die gewilde Worthy Women-konferensie ’n bedrag van R77 500 van die organiseerders ontvang om vir verskeie van die organisasie se verdienstelike projekte aan te wend. Dié geld is geskenk deur die 5 300 vroue wat die geleentheid bygewoon het. Die tema van vanjaar se geleentheid was “vroue met invloed”. Gretha Wiid, wat die Worthy Women-konferensie jaarliks aanbied, het die vroue aangemoedig om vroue met invloed te word deur deel te word van Helpende Hand se projekte om armoede uit te roei.
“As kinders van die Here wil ons altyd weet waar en hoe ons Jesus prakties vir die wêreld kan wys,” sê Gretha oor die bydraes. “Deur brood te gee vir iemand wat honger is, word ons Jesus se hande en voete na die wêreld toe.”
Helpende Hand sal die fondse aanwend vir die Kosblikkie- en Skooltassieprojek, die Borg ’n Kind-insiatief en die Afrikaanse Beursinstituut.
“Die uitwissing van armoede is ’n langtermynprojek,” sê dr Danie Brink, uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand. “Helpende Hand volg ’n beleid van opheffing-deur-opleiding as die beste manier om armoede te verbreek en daarom is ons oneindig dankbaar vir elke persoon wat bydra sodat ons projekte soos die Kosblikkie- en Skooltassieprojek, Borg ’n Kind asook die Afrikaanse Beursinstituut volhoubaar kan aanbied.”
“Ons bedank Gretha Wiid en haar span vir hulle volgehoue ondersteuning en bewusmaking,” sê hy.
Mediaskakelbeampte:
Juanita du Preez
Solidariteit Helpende Hand
Tel: 012 644 4390
Sel: 074 500 3915
E-pos: juanita@helpendehand.co.za
