Solidariteit Helpende Hand
18 Julie 2012
Hoërskool Garsfontein en Helpende Hand vat hande in gemeenskap op Mandela-dag
Solidariteit Helpende Hand en Hoërskool Garsfontein het op Mandela-dag hande gevat om ’n verskil in die gemeenskap te maak.
Tydens die geleentheid het die skool omgeepakkies, wat vir behoeftige bejaardes en babas bestem is, aan spesifieke organisasies oorhandig. Die projek het ontstaan nadat die hoërskool se graad 10-groep Helpende Hand genader het om raad oor ’n gemeenskapsprojek. Na aanleiding van Helpende Hand se voorstelle om betrokke te raak by bejaardes en babas het die projek vlam gevat en is die hele skool en lede van die gemeenskap betrek.
“Ons wil graag hê jongmense moet volhoubaar in hul gemeenskap betrokke wees en nie net op een dag in die jaar nie,” sê Karin Venter, Helpende Hand se projekorganiseerder. “Hoewel ons ’n beleid van opheffing-deur-opleiding as ’n antwoord vir armoede volg, sorg ons tog ook vir die weerlose lede van die gemeenskap wat afhanklik is van versorging.”
Die leerders het die omgeepakkies aan Helpende Hand, dr Elma Kruger van Centurion Bejaardesorg, die skool se projek vir behoeftige leerders en vier kerke in die omgewing oorhandig.
Die hoof van Hoërskool Garsfontein, Dirk van Zyl, was aangenaam verras met die kinders se bereidwilligheid om deel te neem. “As ons kinders wil toerus vir die wêreld daar buite, moet hierdie projekte deel wees van hulle opvoeding,” sê Van Zyl. “Ons moet ʼn verskil maak.”
Foto’s is beskikbaar op aanvraag.
Mediaskakelbeampte:
Juanita du Preez
Solidariteit Helpende Hand
Tel: 012 644 4390
Sel: 074 500 3915
E-pos: juanita@helpendehand.co.za