President Jacob Zuma het vandag weereens ʼn vergadering gehou om die Internasionale Dag vir die Uitwissing van Armoede te vier. Solidariteit Helpende Hand verkies egter om eerder praktiese en werkbare oplossings teen armoede te implementeer om hierdie dag te vier.
“Op hierdie belangrike dag vir Suid-Afrika se eie agenda in die stryd teen armoede sal die president weer die presidensiële hoëvlakdialoog oor die ekonomie byeenroep vir ʼn opvolgbespreking met die georganiseerde sake-, arbeid- en gemeenskapsektor,” het die Presidensie gesê.
Volgens dr. Danie Brink, die uitvoerende hoof van Solidariteit Helpende Hand, word die regering se plan om armoede teen te werk gekenmerk deur eindelose vergaderings wat min resultate lewer. “Hoewel die regering wel gereeld planne en liggame, soos die Nasionale Strategie teen Armoede van 2006, ’n Nasionale Raad op Armoede en die “Oorlog teen armoede”-veldtog van 2008 vir die bestryding van armoede voorstel en aankondig, sit miljoene mense steeds sonder werk,” sê hy.
Die land se getal werkloses staan volgens Statistieke SA op 4,47 miljoen mense.
“Helpende Hand glo werklik dat opheffing deur opleiding die antwoord is om armoede volhoubaar uit te roei,” het dr. Brink gesê. “Die skep van ’n welsynstaat bied nie ’n langtermynoplossing vir armoede nie. Miljoene mense in die land ontvang egter een of ander maatskaplike toelaag.
Die regering is welkom om by Helpende Hand te kom kers opsteek oor hoe om armoede suksesvol uit te roei deur opleiding te bevorder.”
Helpende Hand se nasionale opheffingsprojekte is daarop gemik om opleiding te bevorder. Deur die Kosblikkieprojek word kleuters toegerus om hulle skoolloopbaan slaggereed en skoolryp te begin. Die Skooltassieprojek verskaf skooltassies, skryfbehoeftes en professionele leiding aan behoeftige graadeens. Leerders word deur middel van beroepsleiding en -voorligting bygestaan om weldeurdagte en ingeligte besluite oor hul toekoms te maak. Jongmense word ’n kans op ’n ekonomies onafhanklike toekoms gegun deur die toekenning van rentevrye studiebeurse. Werksoekers word die geleentheid gebied om suksesvol werk te soek en te kry.
“Ons hoop om die regering teen 17 Oktober 2013 te kan gelukwens met die welslae wat bereik is om armoede uit te wis,” het dr. Brink gesê. “Intussen sal ons voortgaan om ons suksesvolle beleid van opheffing deur opleiding as ’n teenvoeter vir armoede uit te brei en nie net vergaderings hou nie.”
Sien ook ʼn volledige artikel oor die Internasionale Dag vir die Uitwissing van Armoede hier: http://www.helpendehand.co.za/top-stories/solidariteit-helpende-hand-betreur-hoe-armoedevlakke-op-17-oktober-wereld-vier-internasionale-dag-vir-die-uitwissing-van-armoede/
Juanita du Preez
Mediaskakelbeampte: Solidariteit Helpende Hand
Tel.: 012 644 4390
Sel: 074 500 3915
E-pos: juanita@helpendehand.co.za
