Mediaverklaring
Solidariteit Helpende Hand
12 April 2012

Solidariteit Helpende Hand en Hoërskool Waterkloof trek boeke oor by Laerskool Westerlig

Solidariteit Helpende Hand en leerders van Hoërskool Waterkloof het Woensdag binne twee ure daarin geslaag om 620 werkboeke van Laerskool Westerlig in Danville oor te trek.

Die graad agt-groep van die hoërskool het plastiek en kleefband ingesamel as deel van hulle gemeenskap uitreikprojek. Die groep het eindelik ongeveer 350 rolle plastiek en kleefband ingesamel en besluit om dit in samewerking met Helpende Hand aan Laerskool Westerlig te skenk. Die leerders wou egter meer betrokke wees en het aangebied om te kom help om die werkboeke ook oor te trek.

Verskeie leerders en oud-leerders van Hoërskool Waterkloof, ʼn span van Solidariteit se burgerregte-organisasie AfriForum en personeel van Helpende Hand het bygedra om die projek suksesvol af te handel.

“Helpende Hand volg ʼn beleid van opheffing deur opleiding,” sê Dr Danie Brink, die uitvoerende hoof van Solidariteit Helpende Hand. “Opleiding is egter nie net beperk tot formele onderrig nie, maar sluit ook die opleiding van mense om betrokke te raak by die wyer gemeenskap, ook reeds van ʼn jong ouderdom af, in. Die projek was dus ook daarop gemik om die ritme van gee en omgee vir jou medemens te vestig.”

Die leerders het baie uit die projek geleer. “Ek het nie geweet dat daar kinders is wat nie plastiek vir boeke het nie,” het ʼn leerder gesê. “Mens weet dat daar kinders is wat nie so bevoorreg is soos jy nie, maar dis nou eers ʼn realiteit dat dit kinders so naby aan ons is.”
Die groep was vasbeslote om in die toekoms meer betrokke te raak in die gemeenskap.

Mediaskakelbeampte:
Juanita du Preez
Solidariteit Helpende Hand
Tel: 012 644 4390
Sel: 074 500 3915
E-pos: juanita@helpendehand.co.za