31 Augustus 2011

Helpende Hand het vandeesweek ʼn 24 uur lange massa-eetstaking aangebied om bewustheid oor die nood van behoeftige kleuters te skep. Bykans R30 000 is reeds deur sosiale media ten bate van kleuterskoolvoedingskemas ingesamel en die skenkings stroom steeds in. 

 Bekendes soos Karlien van Jaarsveld, Sorina Erasmus (die “Flooze”), Chereé, Nedine Blom, Hettie Brittz en Gretha Wiid het aan die eetstaking deelgeneem. Luister gerus na Lindie Strydom se onderhoude met die ambassadeurs by http://www.solidariteitradio.co.za/massa-eetstaking/.Die eetstaking het ook uit onverwagse oorde soos skole steun gekry. Laerskool Die Poort se leerlingraad het aan die eetstaking deelgeneem. Laerskool Rustenburg het laat weet hulle samel blikkieskos en fondse in vir Helpende Hand se Kosblikkieprojek.

Individue het ook ruimhartige skenkings gemaak. André Naudé is ʼn diabeet wat nie kon saam staak nie, maar omdat hy besef hoe belangrik kos vir kinders is, het hy R500 geskenk. Verskeie ondersteuners het besluit om van nou af R500 per maand vir die Kosblikkieprojek by te dra.

Verder het die personeel van die seksie Grondgebruikwetgewing en Aansoekbestuur by die Tshwane-munisipaliteit hulle heeldag uitgehonger. Die projek het vir hulle weer die kwessie van wit armoede en die lot van kinders op die hart gedruk.

“Helpende Hand wil verseker dat elke kleuter se magie vol is, want geen kleuter moet hom of haar bekommer oor waar vandag se broodjie vandaan gaan kom nie. Ons beywer ons ook daarvoor dat behoeftige kleuters voldoende voorskoolse voorbereiding ontvang sodat hulle nie hul skoolloopbaan met ʼn agterstand begin nie. Ons het reeds ondersteuningskemas by 14 behoeftige kleuterskole op die been gebring en bied tans opleiding aan ʼn derde groep dagmoeders. Ons is dankbaar vir elke rand wat vandag vir die Kosblikkieprojek ingesamel is,” volgens dr. Danie Langner, uitvoerende direkteur van Helpende Hand.

Hoewel die amptelike eetstaking en teleton verby is, gaan die Kosblikkieprojek steeds voort.

Om ʼn skenking te maak, skakel 0861 25 24 23 of SMS die woord “hand” na 34388 en ʼn dienssentrumagent sal u skakel.

 

Mediaskakelbeampte:

Juanita du Preez

Solidariteit Helpende Hand

Tel: 012 644 4390

Sel: 074 500 3915

E-pos: juanita@helpendehand.co.za