Die Solidariteit Helpende Hand Noordwesstreek kry binnekort ʼn skenkingskantoor om te voorsien in die nood en skenkings van die omgewing.
Dié besluit is geneem tydens die onlangse streeksvergadering wat in Potchefstroom aangebied is. Verteenwoordigers van al die takke in die Noordwes provinsie (Klerksdorp, Potchefstroom, Stilfontein, Bothaville, Ottosdal, Sasolburg, Lichtenburg, Carletonville, Upington, Sannieshof en Vryburg) het ingestem dat ʼn skenkingskantoor ʼn noodsaaklikheid geword het ten opsigte van die ontvang en tydelike berging van skenkings.
Klerksdorp is as die dorp vir die vestiging van die kantoor geïdentifiseer. Die kantoor sal voorlopig vanuit Swartstraat 94, Oudorp, bedryf word, totdat ʼn geskikte kantoor ingerig kan word. Die skenkingskantoor sal op Woensdae en tydens naweke en tye buite 10:00 en 16:00 gesluit wees.
Die takvoorsitter in Klerksdorp is Kotie Esterhuizen en sy kan tydens kantoorure op 018 462 8892 gekontak word.
“Ons bedank almal wat reeds vir ons skenkings gemaak het,” sê SW Calitz, die streeksorganiseerder. “Hoewel ons fokus hoofsaaklik opheffing deur opleiding is, is enige bydrae, hoe gering ook al, belangrik omdat dit ʼn verskil maak.”
Dit het ook onder Helpende Hand se aandag gekom dat die organisasie se naam misbruik word om skenkings te verkry en insameling te doen. Ons distansieer ons as organisasie van hierdie individue wat onder valse voorwendsels opereer. Daar is slegs een kantoor in Klerksdorp vir Solidariteit Helpende Hand en slegs een skenkingskantoor in Noordwes.
Mediaskakelbeampte:
Juanita du Preez
Solidariteit Helpende Hand
Tel: 012 644 4390
Sel: 074 500 3915
E-pos: juanita@helpendehand.co.za