Solidariteit Helpende Hand
5 Julie 2012

Solidariteit Helpende Hand se Kosblikkieprojek lewer suksesverhaal
Bereik vanjaar meer as 3 000 kleuters

Deur Solidariteit Helpende Hand se Nasionale Kosblikkieprojek is die lewensdroom van ʼn kleuterskool-assistent bewaarheid en nou kan sy haar roeping daagliks uitleef.

Lucie Bouwer (30) was in 2010 een van die eerste ouers wat Helpende Hand se dagmoederopleiding meegemaak het. Tydens die opleiding het sy geleer hoe om kleuters konstruktief besig te hou sodat hulle skoolryp is wanneer hulle klaar is met kleuterskool.

Lucie het sedert haar seun se geboorte gereeld tydelike werk gedoen maar tog gesukkel om die pot aan die kook te hou. Nadat sy die dagmoederopleiding ontvang het, het Booysens Beertjies-kleuterskool in die weste van Pretoria haar ʼn pos as kleuterskool-assistent aangebied.

“Ek wou nog altyd met kinders werk,” sê Lucie oor hierdie geleentheid. “Maar hierdie is nie ʼn werk nie, eerder ʼn roeping. Ek het baie hard en lank hiervoor gebid.”

Vanjaar sien die Kosblikkieprojek heelwat anders daar uit as bloot dagmoederopleiding. Die projek het die afgelope drie jaar gegroei tot ʼn omvattende antwoord vir die holistiese ontwikkeling van behoeftige kleuters in Suid-Afrika. Die Kosblikkieprojek bestaan uit ʼn voedingskema waardeur die kleuters van 40 behoeftige kleuterskole daagliks ʼn voedsame ete ontvang. Elke skool ontvang ook ʼn krat met materiaal vir kuns en handwerk, opvoedkundige en fantasiespeletjies, lewensvaardighede, wiskundige vermoëns, legkaarte en Afrikaanse leesboekies.

ʼn Verdere aspek van die projek is die opleiding van versorgers by die kleuterskole in samewerking met die fasiliteerders van Hettie Brittz se Immergroen Ouerskap-program. Ouers word by die program betrek en Helpende Hand stel ook ʼn maatskaplike diens aan die ouers en kleuterskole beskikbaar.

Meer as 3 000 kinders en nagenoeg 2 000 ouers en versorgers sal vanjaar met die projek bereik word.

Die kosblikkies word teen R50 elk verkoop om die volhoubaarheid van die projek te verseker. Skenkings kan direk in Helpende Hand se rekening gemaak word. Ondersteuners kan ook die oranje kosblikkie by takke aankoop om daarmee die kleuters by kleuterskole of bejaardes in die omgewing met eetgoedjies te bederf.
Sms die woord ‘KOSBLIK’ na 38657 om R10 vir die projek te skenk.

Mediaskakelbeampte:
Juanita du Preez
Solidariteit Helpende Hand
Tel: 012 644 4390
Sel: 074 500 3915
E-pos: juanita@helpendehand.co.za