Solidariteit Helpende Hand
22 Maart 2012
Solidariteit Helpende Hand skep toekoms vir kinders met Borg ʼn Kind-projek
Solidariteit Helpende Hand het vanjaar die Borg ʼn Kind-projek bekendgestel wat reeds volstoom by die ongeveer 120 landswye takke aan die gang is.
Die doel van die projek is om aan kleuters en kinders wat die potensiaal het om graad 12 of ʼn naskoolse kwalifikasie te behaal of direk na skool te gaan werk, geleenthede te bied om hul potensiaal te verwesenlik wat hulle andersins nie sou kon doen nie vanweë hul moeilike maatskaplike omstandighede.
“Helpende Hand volg ʼn beleid van opheffing-deur-opleiding as ʼn langtermynoplossing vir die armoedeprobleem,” sê dr Danie Brink, die uitvoerende hoof van Helpende Hand. “As ons terugkyk na die verlede is daar baie voorbeelde van hoe die bydrae van ʼn bevoorregte persoon ʼn algehele verandering in die lewe van ʼn behoeftige kind teweeggebring het. Die doel van die Borg ʼn Kind-projek is soortgelyk daaraan. As die armoedesiklus verbreek kan word, kan ʼn kind ʼn selfstandige, onafhanklike, verantwoordelike individu word.”
Deur die projek kan Helpende Hand-takke behoeftige kleuters help om graad R by te woon sodat hulle skoolgereed is wanneer hulle met graad een begin en dus nie hul skoolloopbaan met ʼn agterstand afskop nie. Verder help die projek verhoed dat leerders skool vroeg verlaat weens moeilike huislike omstandighede.
Die projek maak deel uit van Helpende Hand se waardeketting wat voorskoolse dienste, dienste aan skoolkinders en hulpverlening ten opsigte van naskoolse opleiding behels. Die beoogde uiteinde van die Borg ʼn Kind-projek is dat beurse beskikbaar gestel word aan jongmense wat potensiaal toon en wat wil gaan studeer.
Mediaskakelbeampte:
Juanita du Preez
Solidariteit Helpende Hand
Tel: 012 644 4390
Sel: 074 500 3915
E-pos: juanita@helpendehand.co.za
