Solidariteit Helpende Hand
20 September 2012
Solidariteit Helpende Hand stel nuwe Loopbaangids bekend
Solidariteit Helpende Hand het vandag die splinternuwe Loopbaangids bekendgestel.Die Helpende Hand Loopbaangids is ’n nuttige instrument om kinders, ouers en onderwysers in staat te stel om ingeligte beroepskeuses te maak. Die gids sal gratis aan hoërskole regdeur die land versprei word.
Die loopbaangids word verdeel in temas wat inligting bevat oor tieners se bekommernisse oor die toekoms. Die gids bied gespesialiseerde inligting oor die toekoms in Suid-Afrika; skaars vaardighede en entrepreneurskap; hoe om goeie vak- en beroepskeuses te maak; die verskil tussen grade, diplomas en sertifikate; finansiële advies vir tersiêre studies; en roeping en die wêreld van werk en wat om daarvan te verwag.
Kenners soos Flip Buys, Lindie Strydom, dr. Dirk Hermann, dr. Steve Booysen, dr. Wikus Buys en Hettie Britz het artikels vir die loopbaangids geskryf.
Die loopbaangids bied ook hulp vir jong werksoekers wat steeds onseker is oor hul beroepskeuses. Dr. Theuns Eloff van die Noordwes-Universiteit het ’n artikel oor die lewenslange leerproses geskryf, wat meer insig hieroor bied.
Die gids word binnekort gratis aan skole verskaf en individue kan dit teen R30 per eksemplaar bestel.
“Solidariteit Helpende Hand glo dat opleiding die beste manier is om die kringloop van armoede te verbreek en lewens te verbeter,” sê dr. Danie Brink, die uitvoerende hoof van Helpende Hand. “Juis om hierdie rede het Helpende Hand ’n beroepsleidingsdiens wat tieners en jongmense voorberei vir die wêreld van werk. Ons hoop dat die loopbaangids ’n waardevolle diens gaan bied.”
Vir meer inligting besoek www.loopbaan.co.za. Belangstellendes kan Karin Venter by 012 644 4390 skakel of ’n e-pos na karin@helpendehand.co.za stuur.
Mediaskakelbeampte:
Juanita du Preez
Solidariteit Helpende Hand
Tel: 012 644 4390
Sel: 074 500 3915
E-pos: juanita@helpendehand.co.za
