Mediaverklaring

Solidariteit Helpende Hand

20 Maart 2012

Solidariteit Helpende Hand vier Internasionale Maatskaplikewerkdag op 20 Maart

Waarskuwing oor uitdagings in nieregeringsorganisasiesektor

Solidariteit Helpende Hand vier op 20 Maart Maatskaplikewerkdag saam met die meer as 15 000 geregistreerde maatskaplike werkers in die land.

Maatskaplike werk is ʼn gespesialiseerde beroepsveld en word geklassifiseer as ʼn skaars en kritieke vaardigheid. Daar is ʼn enorme tekort aan opgeleide, geregistreerde maatskaplike werkers in die land. Na raming word nog 40 000 maatskaplike werkers benodig.

“Helpende Hand werk baie nou saam met ander maatskaplike instellings om ondersteuning te bied vir die maatskaplike euwels wat die vlaag van armoede in Suid-Afrika veroorsaak,” sê dr Danie Brink, die uitvoerende hoof van Solidariteit Helpende Hand. “Ons besef terdeë hoe waardevol toegewyde maatskaplike werkers vir die land is.

“Ons is egter ook bewus van die uitdagings wat nieregeringsorganisasies ervaar wanneer dit kom by die vergoeding van maatskaplike werkers,” sê hy. “Dit het ʼn direkte invloed op die tekort aan goeie maatskaplike werkers in die nieregeringsorganisasiesektor.”

Volgens Marieta Kemp, direkteur maatskaplike dienste by die SAVF, is dit ironies dat nieregeringsorganisasies dit al hoe moeiliker vind om hierdie poste te bekostig. “Dit beteken dat gemeenskappe en persone wat die dienste van ʼn maatskaplike werker broodnodig het, dit ontbeer weens die gebrek aan befondsing,” sê Kemp. “Hoewel maatskaplike hulpwerkers en kinder- en jeugwerkers die nood tot ʼn mate verlig, mag sekere take slegs deur maatskaplike werkers onderneem word.”

Die Suid-Afrikaanse Raad op Maatskaplikediensberoepe beaam ook die massiewe uittog van maatskaplike werkers. Die president van die raad, dr. Zethu Mkhize, skryf dit toe aan die verskuiwing van maatskaplike werkers van die welsynsektor na die korporatiewe sektor en ook van die nieregeringsektor na regeringsdepartemente. “Dit laat ʼn enorme lugleegte van vaardighede in die nieregeringsorganisasiesektor,” sê sy.

Deur beurslenings van Helpende Hand se Afrikaanse Beursinstituut het verskeie studente vanjaar die geleentheid gekry om hulle studies in maatskaplike werk voort te sit.  Helpende Hand dra self by tot die stryd teen armoede deur opheffingsprojekte wat volhoubare oplossings bied.

Helpende Hand doen ʼn beroep op die regering om langtermyn- en volhoubare oplossings te help skep vir die tekort aan maatskaplike werkers en spesifiek die armoedeprobleem.

 

Lees gerus meer oor die kwessies rondom maatskaplike werk in ʼn uitgebreide artikel by hierdie skakel.

Lees ook ‘n gebed vir maatskaplike werkers deur Susan Coetzer by hierdie skakel.

Mediaskakelbeampte:

Juanita du Preez

Solidariteit Helpende Hand

Tel: 012 644 4390

Sel: 074 500 3915

E-pos: juanita@helpendehand.co.za