REKORD (North) 21 September 2012 Bladsy 7

Kleuters se gesiggies het gestraal van vreugde toe Solidariteit Helpende Hand onlangs na ‘n behoeftige kleuterskool in die weste van Pretoria uitgereik het. Helpende Hand se Pretoria-Noord-tak het die kinders van Feetjieland-kleuterskool met ‘n prettige kosblikpartytjie verras. Vrywilligers van die tak het die 100 behoeftige kleuters met kleurvolle ballonne, gesigverf, kosblikke vol lekkers, ‘n springkasteel en ‘n skreeusnaakse nar bederf.

Die feestelike partytjie is gehou as deel van Helpende Hand se landwye kosblikkieprojek, wat vanjaar reeds 3 200 behoeftige kleuters bereik het. Volgens Corrie van der Merwe, die Pretoria-Noord-tak se voorsitter, het die projek die afgelope drie jaar tot ‘n omvattende antwoord op die holistiese ontwikkeling van behoeftige kleuters in Suid-Afrika gegroei. “Die kosblikkies word aan inwoners verkoop om die volhoubaarheid van die projek te verseker. Die projek behels ‘n voedingskema waar kleuters van 40 kleuterskole voedsame etes ontvang, asook die opleiding van nagenoeg 2 000 ouers, versorgers en kleuterskoolassistente,” het Van der Merwe verduidelik. Volgens Van der Merwe verskaf Helpende Hand ook kratte wat met opvoedkundige speelgoed gevul is aan behoeftige kleuterskole en graad R klasse regoor die land uitgedeel word.

 

 

 

 

 

Die kleuters spog met hul splinternuwe kosblikke gevul met lekkers.