PLUS 50 01 Augustus 2012 Bladsy 22
Deur Juanita du Preez.
Solidariteit Helpende Hand en Hoërskool Garsfontein het op Mandela-dag (18 Julie) hande gevat om ‘n verskil in die gemeenskap te maak. Tydens die geleentheid het die skool omgeepakkies, wat vir behoeftige bejaardes en babas bestem is, aan spesifieke organisasies oorhandig.
Die projek het ontstaan nadat die hoërskool se graad 10-groep Helpende Hand genader het om raad oor ‘n gemeenskapsprojek. “Ons wil graag hê jongmense moet volhoubaar in hul gemeenskap betrokke wees en nie net op een dag in die jaar nie,” sê Karin Venter, Helpende Hand se projekorganiseerder. “Hoewel ons ‘n beleid van
opheffing-deur-opleiding as ‘n antwoord vir armoede volg, sorg ons tog ook vir die weerlose lede van die gemeenskap wat van versorging afhanklik is.”
Die leerders het die omgeepakkies oorhandig aan Helpende Hand, aan dr Elma Krüger van Centurion Bejaardesorg, aan die skool se projek vir behoeftige leerders, asook aan vier kerke in die omgewing. Die hoof van Hoërskool Garsfontein, Dirk van Zyl, was aangenaam verras met die kinders se bereidwilligheid om deel te neem. “As ons kinders wil toerus vir die wêreld daar buite, moet hierdie projekte deel wees van hulle opvoeding,” sê Van Zyl. “Ons moet ‘n verskil maak.”