KLERKSDORP MIDWEEK 10 Julie 2012 Bladsy 5

Vanjaar sien Helpende Hand se kosblikkieprojek heelwat anders daar uit as bloot dagmoederopleiding. Die projek het die afgelope drie jaar gegroei tot ‘n omvattende antwoord vir die holistiese ontwikkeling van behoeftige kleuters in Suid-Afrika. Die kosblikkieprojek bestaan uit ‘n voedingskema waardeur die kleuters van veertig behoeftige kleuterskole daagliks ‘n voedsame ete ontvang.

Elke skool ontvang ook ‘n krat met materiaal vir kuns en handwerk, opvoedkundige en fantasiespeletjies, lewensvaardighede, wiskundige vermoëns, legkaarte en Afrikaanse leesboekies. ‘n Verdere aspek van die projek is die opleiding van versorgers by die kleuterskole in samewerking met die fasiliteerders van Hettie Brittz se Immergroen Ouerskapprogram. Ouers word by die program betrek en Helpende Hand stel ook ‘n maatskaplike diens aan die ouers en kleuterskole beskikbaar.

Meer as 3 000 kinders en nagenoeg 2 000 ouers en versorgers sal vanjaar met die projek bereik word. Die kosblikkies word teen R50 elk verkoop om die volhoubaarheid van die projek te verseker. Skenkings kan direk in Helpende Hand se rekening gemaak word. Ondersteuners kan ook die oranje kosblikkie by takke aankoop om daarmee die kleuters by kleuterskole of bejaardes in die omgewing met eetgoedjies te bederf.

Sms die woord ‘KOSBLIK’ na 38657 om R10 vir die projek te skenk.