Die Afrikaanse Beursinstituut het dit vanjaar vir 529 studente moontlik gemaak om hulle tersiêre studies met rentevrye studielenings voort te sit. Hierdie jongmense kan nou weens sulke geleenthede hulle drome verwesenlik. Venuska is een van hierdie studente. Sy is ʼn onderwys student by UNISA en werk by Laerskool Albertyn met die GrRR en GrR kindertjies. Hier is ʼn brief wat sy aan Helpende Hand gestuur het.
Ek het besluit om onderwys te studeer omdat ek ‘n liefde het vir kinders veral vir die kleintjies. Om hulle voor te berei vir graad1 is soos om ‘n baba te leer loop. Ek geniet dit om skeppende aktiwiteite saam met leerders te doen asook om leerders te assesseer. Dit help my om elke leerder individueel beter te leer ken. Ek speel graag saam met leerders tydens vryspeel en help ook met die netbal afrigting.
Die leerders kruip so gou in ‘n mens se hartjie en elkeen van hulle is uniek op sy of haar manier. Ek sal die skoolhoof van Laerskool Albertyn en ander personeel ewig dankbaar wees vir die geleentheid wat hulle my bied om myself voor te berei as onderwyseres. Dankie ook aan Solidariteit Helpende Hand vir die ondersteuning.
Groete
Venuska van Niekerk