Deur Marlene Veldtman (streeksorganiseerder)
Die Lentefees-konsert ten bate van Helpende Hand se Port Elizabeth-tak het op 14 Oktober 2011 die De Duin Ouditorium in Port Elizabeth met pragtige klanke gevul.
Alhoewel dit op die dag nie Lenteweer in Port Elizabeth was nie, was die atmosfeer binne die ouditorium feestelik met ‘n duidelike Lentetema.
Die gehoor is eers getrakteer met ‘n aanvangsitem deur Karl Lokotch en sy pragtige vioolmusiek. Daarna is hulle bederf met die pragtige klanke van die trio For Classics wat al van 1999 af saam optree. Hulle het onder meer hulde gebring aan Christa Steyn deur van haar musiek te sing. Elsje Nelson het as gaskunstenaar saam met die groep opgetree en het pragtige weergawes van bekende Afrikaanse musiek gelewer.
Na ‘n pouse waartydens Helpende Hand Port Elizabeth-Wes heerlike eetgoed te koop aangebied het, is ‘n voorlegging oor Helpende Hand deur die streeksorganiseerder in die Oos-Kaap, Marlene Veldtman, gedoen.
Die fondse wat ingesamel is uit die verkoop van die kaartjies en snoepie sal aangewend word vir werkskeppingsprojekte in die Port Elizabeth-area.
Daar sal natuurlik nooit genoeg fondse beskikbaar wees vir die opheffing van armoede nie. Die gemeenskap word versoek om met die Port Elizabeth-tak in aanraking te kom as hulle ‘n skenking tot die projek wil maak.
Die manne van die Arbitrio Mannekoor het na die voorlegging die gehoor bekoor met die lied “Heimwee” wat saam die gaskunstenaar Elizma Beets opgevoer is. Slegs ‘n gedeelte van die mannekoor, wat reeds sedert 1977 bestaan, was teenwoordig.
Baie dankie aan elkeen wat die konsert bygewoon het en elke deelnemer wat sy bydrae gelewer het om ‘n sukses van die aand te maak.
Skakel gerus vir Marlene Veldtman op 083 5013 166 as jy in die Oos-Kaap by Helpende Hand betrokke wil raak. Besoek gerus die webwerf by www.helpendehand.co.za of SMS die woord “hand” na 34388 en ‘n agent sal jou skakel om ander opsies van betrokkenheid te bespreek.