SOLIDARITEIT 01 September 2012 Bladsy 46

Deur: Karin Venter

Personeel binne ʼn organisasie of maatskappy, word, net soos die rekenaars of fotostaatmasjien, as hulpbronne gereken. Maar anders as masjiene, kan mense nie eenders hanteer word of aan- en afgeskakel word nie. Johan Nel, Adjunkhoof van Solidariteit Helpende Hand stel dit baie duidelik: “Ons kapitaal is ons mense”. Personeel is dus ‘n organisasie se grootste bate en kan optimaal benut word as hulle reg hanteer en bestuur word.

Die effektiewe bestuur van mense lei dikwels tot die welslae van ʼn besigheid deurdat doelwitte suksesvol bereik word en kliënte goeie diens ontvang. Daarenteen lei oneffektiewe mensebestuur dikwels tot onderlinge probleme tussen personeellede, swak dienslewering en finansiële verliese. Dit kan selfs die ondergang van ʼn besigheid beteken. In ʼn organisasie is daar ’n span mense wat verantwoordelik is vir die algemene beheer en bestuur van alle personeelaangeleenthede, vanaf aanstellings tot en met maandelikse vergoeding. Aan die hoof van die span staan ʼn personeelbestuurder, wat die hartklop van die organisasie, sy personeel, bestuur.

Afhangende van die grootte van die organisasie, bevat die span soms ‘n menslikehulpbronbeampte wat hoofsaaklik werwing en keuring hanteer. Die salarisadministrateur is weer verantwoordelik vir hantering van salarisverwante administrasie.  Hierdie afdeling is betrokke by elke faset van personeel en ook werksaam binne elke afdeling. Indien ʼn besigheid beskik oor ʼn menslike hulpbron-span wat personeelsake doeltreffend bestuur, lei dit tot groter werksbevrediging. Die span se verantwoordelikhede beslaan ‘n wye terrein wat die volgende verantwoordelikhede kan insluit: Werwing en keuring, personeeladministrasie (posbeskrywings, kontrakte, verlof), vergoeding en betaalstelsels, asook prestasiebestuur, opleiding en ontwikkeling, beplanning en opvolgbestuur, arbeidsverhoudinge, werknemersondersteuning en –welstand, en organisasieontwikkeling.

Volgens Leana Leonard, Menslike hulpbronbestuurder van die Solidariteit-beweging, fokus verskeie aspekte van ʼn menslike hulpbronbestuurder se werk op die bereiking van die organisasie se strategiese doelwitte. Tydens veranderingbestuur moet die menslikehulpbronbestuurder ʼn brug bou tussen die organisasie se doelwitte en die uitvoering daarvan deur personeel op grondvlak. Die hantering van mense is elke dag anders en baie onvoorspelbaar. Diegene wat in die beroep staan, moet kan prioritiseer, maar tegelykertyd ook buigsaam wees. ‘n Gesonde oordeelvermoë en goeie kommunikasievaardighede is van kardinale belang, asook uiterste betroubaarheid omdat personeel hul dikwels in hul vertroue neem.

Daar is ʼn paar faktore wat ʼn groot rol speel in die optimale benutting van personeel en die lewering van goeie werksprestasies: Daar moet ʼn passing wees tussen die persoon en die pos waarvoor hy of sy aangestel is. Omgewingsfaktore speel ook ʼn groot rol deurdat interpersoonlike verhoudings ʼn positiewe of negatiewe uitwerking op personeellede kan hê. Goeie leierskap en kommunikasie van organisasiebestuur se kant af dra by tot personeellede se optimale funksionering. Dit is ook belangrik dat personeellede voel hulle word ten volle benut en dat hulle goeie groei- en ontwikkelingsgeleenthede ontvang. Wat werksverwagtinge betref, moet daar ʼn duidelike korrelasie wees tussen personeelinsette en -uitsette deurdat personeel erkenning en vergoeding in ooreenstemming met hul werkprestasie moet ontvang.

Algemene foute wat organisasiebestuur dikwels ten aansien van mense begaan, het ʼn groot uitwerking op hulle effektiwiteit. Een van die grootste slaggate wat swak bestuur kenmerk, is dat korttermyndoelwitte dikwels ten koste van langtermyndoelwitte nagejaag word. Dit put personeel net uit. Voorts word daar soms nie duidelike onderskeid getref tussen voldoende en onvoldoende werkprestasie nie. Indien mense egter reg bestuur word, skep dit ʼn meer produktiewe omgewing, wat op sy beurt tot die beter funksionering van die besigheid kan bydra.

Elke organisasie het ʼn eie kultuur wat gehandhaaf moet word en waarvolgens aanstellings moet geskied. Die skepping en onderhou van daardie interne kultuur is die werk van die MHB-span. Die emosionele welstand en arbeidsvreugde van personeel hou ook hiermee verband en fokus op besigheidsaktiwiteite sowel as aktiwiteite om personeel te motiveer. ‘n Toeganklike MHB-span kan bydra tot ʼn oop kultuur in ʼn organisasie waarin werkers gelukkig is en effektief funksioneer.