COURIER, KNYSNA PLETT HERALD
Solidariteit Helpende Hand se krag lê in sy 120 takke landswyd. Om kop te hou met die organisering van al die takke se projekte en vrywilligers, verg die bekwaamheid van ‘n besonderse persoon…’n streeksorganiseerder. Mariam Mans is die Suid-Kaap organiseerder.
Hoe lank bly jy nou al in hierdie streek? Ons het in 1995 vanal De Aar in die Noord-Kaap na Oudtshoorn verhuis en is nou al 17 jaar lank woonagtig in die warmste dorp in die Suid-Kaap.
Is jy getroud, het jy kinders? Ek is getroud met Chris Mans en ons het twee kinders, ‘n seun en ‘n dogter. Ons het ook al ‘n driejarige kleinseun.
Wat het jy vantevore gedoen? Ek was jarelank verbind aan Standard Bank. Ek het eers in die tak gewerk en later was ek elf jaar lank ‘n bemarkingsassistent by Stanlin. Tussendeur was ek ook by Saambou en my laaste betrekking voor ek by Helpende Hand ingeval het, was by ‘a plaaslike motorhandelaar.
Hoekom het jy by Helpende Hand betrokke geraak? Ons betrokkenheid by Helpende Hand het gespruit uit dankbaarheid na ‘n baie traumatiese gebeurtenis in ons lewens.
Hoekom bly jy hetrokke? ‘n Passie is gebore en nou moet ek die baba groot kry! My ma was baie betrokke by armoedeverligting en ek het grootgeword met die gedagte dat jy mense in nood moet help. Ek hou daarvan om in my ma se voetspore te volg en haar werk voort te sit.
Wat is die beste deel van jou werk? Om te sien hoe jy werklik ‘n verskil in mense se lewens maak.
Watter projek het tot dusver vir jou uitgestaan? Die daarstelling van ‘n studiesentrum waar kinders na skool ekstra wiskunde- en taalklasse ontvang. By Helpende Hand glo ons die stryd teen armoede is ‘n stryd vir goeie opleiding. Opheffing deur opleiding is ons antwoord.
Waarvan hou jy nie in jou werk nie? Dit breek my hart om te sien dat party mense nie uit hul omstandighede wil ontsnap nie. Mens voel magteloos as ouers wat nie vir hulle kinders ‘n toekoms kan bied nie, nie wil toelaat dat die kind ‘n geleentheid in die lewe kry nie.
Met watter ander organisasies werk Helpende Hand saam in die streek? Die ACVV, Badisa, Kinder- en Gesinsorg, die CMR. diensorganisasies soos die Lions en die Vryburgers, die ATKV. VLV en dan natuurlik al die verskillende kerke.
Watter raad kan jy gee vir iemand wat graag in die gemeenskap betrokke wil raak? Volg jou hart, as jy geroepe voel om ‘n verskil in jou eie gemeenskap te wil maak is Helpende Hand die plek waar jou hand iets gaan vind om te doen. RAAK BETROKKE en moenie apaties staan teenoor jou gemeenskap nie want elkeen het ‘n verantwoordelikheid om ‘n verskil in sy eie gemeenskap te maak. Begin by jou eie Jerusalem!
Mariaan Mans: 072 228 0177, mariaan@helpendehand.co.za