Met groot entoesiasme het die lede van Randburg-tak op Saterdag 29 September by die AGS Gemeente Arendshoogte, Solidariteit Helpende Hand verteenwoordig by die Wees Lig vir Jesus fees.

Die doel van hierdie projek was tweeledig: Eerstens om fondse in te samel deur kosblikkies vol lekkernye te verkoop; en tweedens was dit ook ‘n bewusmakings- veldtog om die Randburg gemeenskap bloot te stel aan Solidariteit Helpende Hand, en meer spesifiek die Randburg-tak se doen en late. Lede van die Randburg-tak het hard gewerk om borgskappe in te samel vir die lekkernye in die kosblikkies en het ook die pak van die 200 kosblikkies behartig. Spesiale dank aan Cornea, Judith en span, asook Marlise en NF vir die skenkings. Die kosblikkies was gevul met ‘n koeldrank, lekkers, skyfies en koekies.

Ten spyte van die snerpende wind was Randburg-tak se lede vroeg Saterdagoggend slaggereed. Gou-gou was die Helpende Hand baniere opgeslaan, die stalletjie gevestig en die kosblikkies uitgestal. Die dag was ‘n reuse sukses. Fondse is ingesamel, nuwe bande is gesmee en nou is die Randburg-tak slaggereed om die volgende projek aan te pak. Alhoewel die Randburg-tak nog nie gestig was ten tyde van die loodsing van 2012 se Kosblikkie-projek nie, sien die Randburg-tak gretig daarna uit om deel te wees van hierdie projek.

Die Kosblikkie-projek het die afgelope drie jaar gegroei tot ’n omvattende antwoord vir die holistiese ontwikkeling van behoeftige kleuters in Suid-Afrika. Die ontwikkelingsuitdagings tydens die vroeë kinderjare word voorkomend aangespreek deur ondersteuning te bied ten opsigte van kleuters se voeding, die indiensopleiding van versorgers by kleuterskole, ouerleiding, maatskaplike ondersteuning en die beskikbaarstelling van opvoedkundige materiaal.

Helpende Hand het in samewerking met Hettie Brittz en haar span Immergroen Ouerskap-fasiliteerders indiensopleiding en ouerleiding vir 2 000 versorgers aangebied. Meer as 3 000 kleuters sal by Helpende Hand se voedingskemas en die opvoedkundige materiaal en speelgoed baat vind.