SOMERSET BUDG. / FORT BEAU. ADV. / CRADOCK C. / WINTERBERG, COURIER, MESSENGER (Victoria West), OEWERNUUS, NOORDWESTER (Calvinia), SOLIDARITEIT

AfriSake Beursfonds skep Toekoms vir Studente. 500 uitgelese sakelui het begin Augustus R650 000 bygedra om die AfriSake Beursfonds onder leiding van dr Steve Booysen te stig. Die beursfonds word deur Solidariteit Helpende Hand se Afrikaanse Beursinstituut bestuur en geadministreer. Die fondse is ingesamel deur ‘n liefdadigheidsmusiekvertoning by Emperors Palace ten bate van die Afrikaanse Beursinstituut.

Gaste kon tydens die vertoning ook verder bydra om die 72 beursfondse wat deur die instituut bestuur word te versterk of ook hulle eie beursfondse te stig. Die konsert is ‘n jaarlikse instelling en is vanjaar vir die derde keer aangebied. Die gaste is vanjaar vermaak deur onder meer Bianca le Grange, Ses Snare, Adam, Jon Delinger, Mel Botes en Riders from the Storm. Volgens Dr Steve Booysen — die voormalige groep uitvoerende hoof van ABSA — het hulle wel daarin geslaag om met die funksie meer as ‘n halfmiljoen rand in te samel.

“Dit is ‘n welbekende feit dat Afrikaanssprekendes vandag werklik sukkel om beurse by instansies of werkgewers te verkry, ten spyte van buitengewoon uitstekende akademiese prestasies,” sê dr Booysen. “Ek is bevoorreg om oor ‘n sake netwerk te beskik waarop ek kan steun om hierdie inisiatief suksesvol te kan mobiliseer en daarvoor is ek baie dankbaar. Ons begin met die nasionale prioriteit van werkskepping. Opgeleide mense het die vermoë om suksesvolle entrepreneurs te word en hulle skep werk vir alle Suid Afrikaners.” Die Afrikaanse Beursinstituut kon vanjaar 529 studente met beurse help te danke aan inisiatiewe soos hierdie.

“Die beurskonsep maak werklik ‘n groot verskil in so baie kinders se lewens,” sê Dinah Theron, die hoof van die Afrikaanse Beursinstituut. “Individue, wat van ander afhanklik was om ‘n bestaan te voer, kan na afloop van hul studies nou onafhanklik funksioneer. Ongelukkig kon ons as gevolg van beperkte fondse nie almal help wat aansoek gedoen het nie en moes ons duisende kinders wegwys.” Die toekoms van ons jeug lê in elkeen van ons se hande. Individuele of groepsbydraes tot die Afrikaanse Beursinstituut verseker dat behoeftige studente die geleentheid gebied word om hulself deur middel van opleiding op te hef. Om self ʼn beurs te stig kontak Dinah Jacobs-Theron by 012 644 4428 of stuur ’n e-pos aan dinah@helpendehand.co.za.

ʼn Tekort aan finansies mag nooit ʼn rede wees hoekom ʼn jongmens nie goeie opleiding kan ontvang nie.