NOORDKAAP 26 September 2012 Bladsy 15
Die 13-jarige Suné Zaaiman hoop om met vanjaar se Diamond Splash-modelkompetisie weer aan behoeftige studente die geleentheid te bied om aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) te studeer. Die kompetisie word in samewerking met Modelcup Suid-Afrika aangebied met groot pryse wat gewen kan word.
Die kompetisie word ‘n derde keer gehou en die vorige twee jaar is R60 000 tot die Suné Zaaiman-beursfonds van Solidariteit Helpende Hand se Afrikaanse Beursinstituut ingesamel. Die fonds het tot dusver vyf studente die geleentheid tot verdere studie gegee. Suné, ‘n gr. 7 leerling aan die Laerskool Eureka, is nou op soek na jong mense en kinders wat by haar projekte betrokke wil raak en saam met haar ‘n verskil wil maak. Daarom het sy einde 2011 die Suné Zaaiman-wisseltrofee vir gemeenskapsdiens aan haar skool oorhandig wat jaarliks aan ‘n kind of groep kinders oorhandig sal word vir uitnemende diens gelewer aan die gemeenskap. Suné is in April vanjaar as die Jong Noord-Kapenaar van die Jaar gekroon.
Suné Zaaiman oorhandig twee jaar gelede ‘n tjek van R45 000 aan Vanessa Marais, Solidariteit Helpende Hand se streekorganiseerder in die Vrystaat en Noord-Kaap. Sy hoop vanjaar se modelkompetisie sal ‘n ewe groot sukses wees.