SOLIDARITEIT 01 September 2012 Bladsy 50

Tersiêre opleiding is peperduur. Daarom maak dit sin om in professionele loopbaanvoorligting te belê. Helpende Hand se professionele beroepsleidingsdiens wil jongmense voorberei vir die wêreld van werk. Die doel van die Helpende Hand Beroepsvoorligtingprogram is om aan Afrikaanse jongmense regoor die land ʼn bekostigbare beroepsleidingdiens ten opsigte van vakkeuses en beroepskeuses te verskaf met die gebruik van psigometriese toetse.

Die pryse is tot 300% goedkoper as markverwante dienste. ʼn Geregistreerde psigometris, in samewerking met Solidariteit Helpende Hand kan die toetse in jou tuisdorp kom aanbied, mits daar agt of meer jongmense is wat van die diens gebruik wil maak.

Hoe werk die aanbod vir psigometriese dienste?

Daar is ʼn verskeidenheid pakkette beskikbaar. Elke pakket is saamgestel om in individuele behoeftes te voorsien. Individuele en groeptoetse word ook in jou gemeenskap gedoen. Kry ʼn groep van agt leerders in jou gemeenskap of skool wat getoets wil word en tree met ons in verbinding om ʼn afspraak te maak.

Wat sluit die aanbod in?

• ʼn Informele gesprek wat voor of na afloop van die toetsing met die ouers en kind gevoer word
• ʼn Evaluering wat, afhangende van die hoeveelheid toetse wat by die sessie ingesluit word, ongeveer 1½ – 2 ure duur
• ʼn Professionele verslag
• ʼn Terugvoersessie wat twee weke na afloop van die toetsing aan die ouers en kind gegee word

Die pakkette wat beskikbaar is

Vakkeusepakket (Gr. 7 – 9): Dit sluit die afneem van ʼn aanleg-, belangstellings- en persoonlikheidstoets in. Hier word spesifiek daarop gefokus om die regte vakke te kies vir die rigting waarin die kind moontlik wil gaan. Koste: R400

Beroepskeusepakket (Gr. 10 – 12): Dit sluit die afneem van ʼn aanleg-, belangstellings- en persoonlikheidstoets in. Hier word in diepte op die beroepskeuse van die kind gefokus. Opsies wat beskikbaar is en moontlikhede vir die toekoms word teen die agtergrond van die kind se vaardighede, skoolpunte en -vakke uiteengesit. Koste: R660

Jongmense- en werksoekerspakket (naskools): Dit sluit die afneem van ʼn aanleg-, belangstellings- en persoonlikheidstoets in. Sterkpunte en vaardighede word uitgelig en moontlike opsies vir die toekoms word uiteengesit. Koste: R550

Skakel gerus vir Annette Taljaard by 012 644 4390 vir meer inligting.

Kenniswerkers nodig

Volgens Flip Buys, uitvoerende hoof van die Solidariteit Beweging, word die toekoms van werk beïnvloed deur nuwe tegnologie en globalisering. “Daar gaan eindelik twee klasse werkers wees: kenniswerkers en die werkloses. Die sleutel tot de toekoms is goeie opleiding en opvoeding. Lewenslange leer is nodig. Skep daarom geleenthede vir jou kinders om op die voorpunt van die nuwe kennis te bly.”

Mark Pretorius* is ‘n jong man met ‘n lag in sy stem, ‘n reguit kyk in sy oë. Hy is een van die sowat 360 000 jongmense wat in 2011 matriek geslaag en een van die 90 000 wat matriekvrystelling gekry het. Sy antwoord op die vraag wat hy gaan studeer was: “Ek is nog nie seker nie.” Ek verlig, want de oplossing is eenvoudig: Stuur hom vir ‘n psigometriese toets. “Nee” was sy reaksie, “ek is nie seker of ek gaan studeer nie”. Tegnologie en navorsing gaan so vinnig vooruit dat ‘n mens dit nie kan bekostig om agter te raak nie. Veral werknemers moet op die hoogte van sake bly om sodoende die beste in hul werk en veld te wees.

Met die huidige stand van werkloosheid, word slegs die beste werknemers in diens geneem. Dit is dus van toekomsbelang dat oud en jonk hulself voortdurend verder bekwaam. Voortgesette leer is ‘n vereiste vir professionele ontwikkeling. Volgens dr Paul Steyn, akademiese hoof van Akademia, die Solidariteit Beweging se eie tersiêre onderriginstelling, is volwasseneonderrig ‘n groot behoefte. “Somtyds besef volwassenes dat hulle van beroep wil verander: Dit is ook belangrik dat werknemers voortdurend nuwe tegnologie moet aanleer en hul kennis sodoende verbreed. “Geleenthede vir leer is nie beperk tot graadstudies nie. Volwassenes kan ook ‘n eenjarige hoër sertifikaat of ‘n driejarige diploma by instellings soos Akademia verwerf,” verduidelik Steyn. * Skuilnaam.